Die stel van strikke hou ’n ernstige bedreiging in vir biodiversiteit in die Wes-Kaap, en veral vir luiperds omdat dié diere asook hul prooi negatief geraak word.
Dit is verlede jaar ook bewys toe die hartverskeurende beelde van plaaswerkers wat pronk met die oorskot van ’n luiperd wat aan die hange van Paarlberg in Agter-Paarl, wat waarskynlik in ’n strik gevang is, die ronde gedoen het.
Verlede jaar is 165 strikke binne net 17 dae in die Kaapse Wynland verwyder. Dié onwettige praktyk is ’n algemene en wydverspreide probleem in die provinsie, sê die Cape Leopard Trust (CLT).
Die CLT volg die afgelope paar jaar ’n veelvlakkige strategie om die probleem te pak en brei dit uit met komponente soos navorsing, bewaring en omgewingsopvoeding.
Planne word nou gemaak vir ’n gekoördineerde reaksie op die probleem en om bewustheid oor hierdie onwettige jagmetode in die provinsie te skep. Danksy ’n nuwe vennootskap met die Internasionale Fonds vir Dierewelsyn kan CLT vorentoe beweeg met die nodige strategieë om die bedreiging te takel.
Aan die einde van 2022 het die CLT, Global Conservation Force, bewaringsorganisasies soos CapeNature, die Kaapse Wynland-biosfeerreservaat, die Kogelberg-biosfeerreservaat, die Groter Simonsberg-bewarea, Bottelary Hills-Renoster-veld-bewarea en die Drakenstein-munisipaliteit saamgewerk om patrollies in die Kaapse Wynland te doen. In 17 dae is 165 strikke verwyder.
Jeannie Hayward, CLT-woordvoerder, sê hulle is bewus van ’n hele paar voorvalle waar luiperds in die strikke beland het.
“Ons vermoed egter die oorgrote meerderheid van gevalle word nie aangemeld nie, omdat die praktyk onwettig is. Die strikke hou ’n ernstige bedreiging in vir luiperds en hul prooi soos ystervarke en bokkies.”
Volgens haar sal meer inligting oor die reaksieplan binnekort bekend gemaak word.
In die stryd teen strikke span die CLT onderrig en bewusmaking in. Die span het ook verskeie inligtingsessies aangebied vir plaaswerkers en -bestuurders asook by skole in gebiede waar luiperds voorkom. ’n Aantal werksessies is ook saam met jeuggroepe en eiendomseienaars gehou.
Voorts maak die CLT, met ondersteuning van die Mouton-stigting, plakkate om mense bewus te maak van strikke. Dit is gratis beskikbaar in Engels, Afrikaans en Xhosa, en kan saam met kort videogrepe gebruik word wat ook deur die CLT geskep is. Van die plakkate is reeds versprei.
Die CLT het die boekie Guide to Snare Patrols en die Grondeienaarsgids vir die monitering en voorkoming van jag met strikke beskikbaar gestel.
Data wat in 2019-’20 tydens patrollies ingesamel is, is ook ontleed en gepubliseer in die Journal of Nature Conservation (Kendon et al 2022, “Evaluating Determinants of Wire-Snare Poaching Risk in the Boland Mountain Complex of South Africa”).
Op grond van vorige navorsing deur die CLT is met ’n ondersoek begin na die maatskaplike aspekte van strikke, soos hoekom mense strikke stel.
Die stel van strikke is ook in Maart bespreek op die eerste Internasionale Luiperd-konferensie wat deur meer as 300 afgevaardigdes van 59 lande bygewoon is.
Mense kan strikke wat hulle in die Wes-, Oos- en Noord-Kaap kry by app.capeleopard.org.za aanmeld.