Die uitslae van die eerste ronde van die Paarlstreek liga-kompetisie Saterdag het geen verrassings opgelewer nie en soos verwag het die vier beste spanne na die beker-halfeindronde deurgedring, en die verloorders na die Plaat-halfeindronde.

’n Paar naelbytstryde is opgelewer met Young Gardens wat Simondium 31-25 geklop het en Young Standards wat Riverstones 25-19 geklop het.

Laer Paarl moes self alles in die stryd werp om Perel United 39-19 te klop terwyl die ligakampioen – Paarl Rangers – gemaklik 62-12 met Violets afgereken het.

Saterdag speel die tweede spanne van Perel United teen Simondium in die halfeindronde van die plaat-kompetisie en die wenners sal teen die tweede span van Riverstone in die eindstryd te staan kom. Die eerste span van Riverstones pak Perel United terwyl Simondium en Violets sake uitspook in die ander plaathalfeindronde uitspook.

Die beker-eindstryd word beslis deur die klubs en spanne wat die pas in die 2022-ligakompetisie aangegee het, waar Young Standards die tweedespan-ligakampioen Laer Paarl pak en Young Gardens teen Paarl Rangers speel.

Die hoogtepunt van die dag begin om 16:00 wanneer die ligakampioen Paarl Rangers opdraf om Young Gardens die stryd aan te sê en Laer Paarl die span van Young Standards pak.

Hierdie spanne weeg tans baie gelyk teenoor mekaar op. In die ligawedstryde het die halfeindronde-spanne mekaar een keer in die ligakompetisie gewen, en wie ook al wen, sal hul onderlinge stryd 2-1 vir die 2022 seisoen wen, wat sal lei tot addisionele motivering vir al twee dié wenspanne.

Alle wedstryde word op die Daljosafat-stadium onder die jurisdiksie van die WPRFU gespeel.

You need to be Logged In to leave a comment.