Die bekende Wellingtonner Theo Kemp (43) het onlangs sy tweede boek, Strafjaart, in Wellington bekend gestel.
Kemp het ná skool BA aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer en daar sy honneursgraad in letterkunde asook sy MA in kreatiewe skryfkunde verwerf. Kemp het sy skoolloopbaan aan die Hoërskool Nico Malan voltooi.
Hy vertel dat sy Afrikaans-onderwyser die een is wat sy talent raakgesien en hom aangemoedig het om te skryf.
“Ek beskou skryf as my stokperdjie, maar wens om eendag meer tyd daaraan te kan bestee,” vertel hy.
Volgens Kemp is die uitdaging vir hom om die regte storie te vind om oor te skryf.
“ ’n Skrywer bring ure der ure agter ’n rekenaar deur en daarom sal jou boek nie slaag as jy nie werklik diep in die onderwerp waaroor jy skryf geïnteresseerd is nie. As ek die regte onderwerp het, kom die dissipline vir my maklik. Dissipline is baie belangrik,” vertel hy.
“Daar gaan ure verby waarin jy skryf en bly krap aan tonele of karakters, want jy voel daar is nie vordering nie. Dan, op ’n dag, is daar ’n deurbraak. Skielik besef jy die storie kry momentum of die storie neem ’n draai wat jy nie verwag of beplan het nie. Dit is sulke magiese oomblikke wat jy nie werklik met iemand kan deel nie. Skryf is ’n alleenpad en daarom moet jy baie energie uit jouself put. Dit is moeilike, harde werk en jy moet die hele tyd kan oplossings vind. Maar as jy lank genoeg aan ’n storie karring, vind jy tog jou weg. En dit maak die wag die moeite werd.”
Strafjaart is Kemp se tweede boek. Sy debuutroman is Skool.
Volgens Kemp was dit ’n onbeskryflike gevoel toe hy sy eerste boek in sy hande het. “Vir my is die lekker deel van boek maak ook die proses met die uitgewers – dan werk jy nie meer alleen nie. Daar is ’n span – ’n redakteur, ’n redigeerder, die omslagontwerper en dies meer. Dit maak dit opwindend. Maar saam met die boek in die hand kom ook die vrees en die afwagting – hoe gaan die boek ontvang word? Hoe gaan mense dit lees?”
Kemp werk tans by die Jakes Gerwel-stigting. Die stigting fokus op die bevordering van skrywers en boeke.
“Dit is baie belangrik om skrywers te onderskraag, en dit is waarmee ek myself besig hou en al hoe meer wil doen. Maar ek wil in dieselfde asem ook my skryfwersloopbaan uitbrei. Ek is nou op die regte ouderdom, waar ek myself die eerste keer as ’n skrywer beskou,” sê Kemp.
Wat is volgende vir dié skrywer?
“Dit neem my ’n hele tydjie om weer tot my sinne te kom. Dit is asof ek nog vasgevang is in die vorige storie, en ek moet wag – met oop sintuie – vir die volgende storie,” sê hy.• Strafjaart word deur Penguin uitgegee en kos R270.