Ek is inwoner in Noorder-Paarl en het onlangs ’n onaangename ervaring gehad toe ek in die straat voor Mediclinic ry.

Dit was die einde van die skooldag by Noorder-Paarl HS en die kinders was op pad huis toe. Soos ek by ’n hoek gedraai het, het ’n leerder op ’n fiets skielik voor my ingedraai. Ek het my koud geskrik en dit was net genade dat ek nie die kind raakgery het nie.

Ek hou al vir ’n geruime tyd dop wat in die straat voor Mediclinic plaasvind. Nie net moet kinders daar wag vir hul vervoer nie, maar al die werkers in Mediclinic wag ook in die straat vir vervoer.

Ek bel toe die skoolhoof en rapporteer die insident. Sy sê hulle het al verskeie vertoë aan die Drakenstein-munisipaliteit gerig, sonder sukses.

Ons praat nou hier van ’n besige straat voor ’n mediese sentrum waar noodvoertuie in en uit. Moet iemand eers seerkry of selfs sterf voor iets gedoen word?

Dit is vir my onaanvaarbaar. Die kinders moet ook op die sypaadjie sit en vir vervoer wag. Daar kan tog sekerlik iets gedoen word om ’n afdak vir kinders te bou, veral vir die wintermaande. Ek sal borgskappe vir die skool kry indien nodig.

Meeste van die skole in die suide van die dorp het puik geriewe en fasiliteite vir kinders. Omdat Noorder-Paarl ’n “geen fooie”-skool is, beteken dit nie hulle moet net tevrede wees met wat hulle kry nie.

My raad is dat die skool die Departement van Onderwys moet nader as deel van die skoolveilig­heidsplan. Die straat voor Mediclinic behoort eenrigtingverkeer te word in die suid-noord rigting, behalwe vir noodvoertuie en noodgevalle.

Die aansluiting by Optenhorststraat is juis gevaarlik en daar was reeds baie ongelukke daar. Mediclinic behoort ’n skuiling te bou vir werkers waar hulle kan sit en wag vir vervoer.

Dit is onaanvaarbaar dat die werkers op die sypaadjie moet sit en eet. Daar behoort ook ’n nagwag te wees om verkeer te monitor, of die hele straat behoort deur CCTV gedek te word.


Eugene du Plessis,

Paarl

You need to be Logged In to leave a comment.