Stormskade nog nie herstel; reën laat pad meegee

Die afgelope naweek se reënbuie wat oor die vallei uitgesak het, het weer eens groot skade in Bougaardtstraat in Paarl-Oos aangerig.


Die afgelope naweek se reënbuie wat oor die vallei uitgesak het, het weer eens groot skade in Bougaardtstraat in Paarl-Oos aangerig.

Met die toestroming van water Saterdagaand het ’n gedeelte van die pad, waar ’n geparkeerde motor voor ’n huis gestaan het, ingesak.

Verskeie inwoners in Bougaardtstraat het verlede jaar ook groot skade gely toe stormweer die dorp getref het. Huise en erwe het erg oorstroom, skeidingsmure het omgeval en die sypaadjies het ingesak.

Hoewel maande nou al verby is, is die oppervlak van die sypaadjies in dié straat steeds nie reggemaak nie.

Sondagoggend het ’n waterpyp weer in dieselfde straat gebars en inwoners is ure sonder water gelaat.

Volgens Louis Pienaar, die waarnemende uitvoerende direkteur van ingenieursdienste by die Drakenstein-munisipaliteit, is die waterpyp dieselfde dag reggemaak.

“Die munisipaliteit het reeds dié waterpyp herstel en het ook vandag (Dinsdag 7 Maart) begin om die padstruktuur te herbou. Ons het reeds die herstel van die sypaadjieskade in Bougaardtstraat geskeduleer en sal eersdaags daarmee begin.”

Volgens Pienaar het die munisipaliteit met Sondag (5 Maart) se reënweer altesaam 18 klagtes van reënverwante skade ontvang.

You need to be Logged In to leave a comment.