Op die dag toe die storm die Wes-Kaapse skole gesluit het, het een onderwyseres ’n plan gemaak om haar top-leerder te laat deelneem aan die kwalifiserende ronde van die Nasionale Toepassingsolimpiade.
Vir ’n uur op die onverwagte “dag af” het onderwyseres, Marlene Dreyer, haar huis as eksamenlokaal omskep. Sy het toesig gehou terwyl leerder Mia de Villiers, 25 taai take aangepak het deur gebruik te maak van Word, Excel, Access en die internet. Hierdie poging het vier weke later vir Mia in die eindronde van die toepassingsolimpiade laat deurdring.
In die kompetisie teen 12 ander finaliste het Mia die goue medalje gewen. Sy het die daglange eindronde as “ ’n uitdaging” en die olimpiade as ’n “algehele goeie ervaring” beskryf. Mia is ’n graad 11-leerder aan Hoër Meisieskool Paarl en beplan om later aktuariële wetenskap te studeer. Sy het provinsiale kleure vir bergfietsry en gaan haar prysgeld op fietsrytoerusting uitgee of dit spaar vir haar studies.