Stories bring vier grotes byeen

Die Breytenbach-sentrum in die grootword-huis van die bekende Breyten Breytenbach in Wellington fokus veral op literatuur en spesifiek poësie. Dié gemeenskap­sen­trum se visie dien ook as wegspringplek en inspirasie vir gereelde uitstallings in die B

’n Besonderse kunsuitstalling is nou in Wellington te sien.


Die Breytenbach-sentrum in die grootword-huis van die bekende Breyten Breytenbach in Wellington fokus veral op literatuur en spesifiek poësie. Dié gemeenskap­sen­trum se visie dien ook as wegspringplek en inspirasie vir gereelde uitstallings in die Breytenbach-galery, wat veral vir besonderse groepuitstallings bekend is.

’n Nuwe groepuitstalling getiteld Ex Libris is onlangs by die Breytenbach-galery in Wellington geopen.

Die gaskurator Heidi Erdman het vier suksesvolle internasionale kunstenaars genooi om deel te neem, naamlik Karlien de Villiers, Chepape Makgato, Henry Coombes en Elzahn Nel. Volgens Erdman is die vier kunste­naars in verskillende stadiums van hul loopbaan, met uiteenlopende lewenservarings, maar boeke en skryfwerk is die sentrale elemente in hul praktyke. “Hierdie kunstenaars is ook gepubliseerde skrywers, vryskutkuns­joer­naliste, kinderboek-illustreerders en kortverhaalskrywers,” verduidelik Erdman.

“De Villiers en Coombes kyk veral na die werk van Breyten Breytenbach. Makgato en Nel herinner ’n mens daaraan dat nie alle boeke van papier gemaak is nie en dat stories nie altyd in woorde vertel hoef te word nie.

“Toe Heidi Erdman ons genader het om vir hierdie uitstalling as gaskurator op te tree, was die Breytenbach-galery ’n voor die hand liggende keuse,” sê Anne-Ghrett Erasmus-Coetzee, kurator van die Breytenbach-galery. “Die ruimte, die galery, word ’n deelnemer aan die uitstalling. Dit het ’n stem; dit is nie stil nie, dit vorm deel van ’n groter ruimte met ’n geskiedenis, ’n konteks en ’n doel.”

Die Ex Libris-uitstalling is tot 12 September te sien. Die galery is oop van 10:00 tot 17:00 van Maandae tot Vrydae en van 10:00 tot 13:00 op Saterdae.

Die sentrum is geleë by Burgerstraat 14, Wellington, en huisves ook ’n koffiewinkel, ’n winkel vir gebruikte boeke, en ’n digterstuin.

Besoek www.breytenbachsentrum .co.za vir nog inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.