Inwoners van Newton buite Wellington het tydens ’n onlangse vergadering met ’n afvaardiging van die Drakenstein-munisipaliteit gesê indien die nabye geleë Uitkyk-plaasdam, wat onlangs waterskade by ’n aantal wonings veroorsaak het, geen merkwaardige rol vervul nie, moet dié dam gesloop word.
Dit volg nadat die munisipaliteit op die aand van 9 Julie tientalle huishoudings naby die Bo-Dal-pad, waar die dam weens die swaar neerslae begin oorstroom het, noodgedwonge moes ontruim.
Dié besluit is in die nagtelike ure geneem vir die veiligheid van inwoners, het die afvaardiging tydens die vergadering in Newton gesê.
Die afvaardiging het bestaan uit Eda Barnard, uitvoerende direkteur vir openbare veiligheid wat ook die waarnemende uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste is; Louis Pienaar, uitvoerende direkteur vir ingenieursdienste; Avron Appollis, die burgemeesterskomiteelid vir openbare veiligheid; en Anre Koegelenberg, die burgemeesterskomiteelid vir elektrisiteit en paaie.
Aidan Stowman, wyk 11 se raadslid, waaronder Newton val, het ook die vergadering bygewoon om inwoners se vrae en onduidelikhede oor die dam op te klaar.
Pienaar het inwoners die sekerheid gegee dat die dam veilig verklaar en die nodige voorsorg getref is vir enige verdere reënval wat nog voorspel kon word.
“Hoewel die watervlak van die dam baie hoog gestyg het, was die vlakke nog heelwat stabiel. Die damwal is nie beskadig nie.
“Ons was toe in kontak met die bestuurder van die plaas en het die volgende oggend ’n damspesialis ingekry.”
Volgens Pienaar het die damspesialis beslis die dam se uitvloei is nie sterk genoeg om die watervlakke te hanteer nie.
Daarna is ’n vrywillige ontruiming deur die munisipaliteit aangekondig.
Pienaar het gesê die risiko is intussen heeltemal uitgeskakel, nadat die munisipaliteit in konsultasie met die departement van water en sanitasie asook die Stad Kaapstad bykomende voorsorg getref het.
’n Sifonpyp, wat tipies gebruik word om water van die een kant van ’n dam na die ander te lei, is onder meer op die wal van die 150 000-kubieke-meter-dam geïnstalleer om te help met die verlaging van die dam se watervlak, het Pienaar verduidelik.
“Tans is die dam veilig. Sy vlakke is wat die departement van water en sanitasie aanbeveel. Op die oomblik sien ons nie probleme nie en is in kontak met verskeie rolspelers om damme reg oor die munisipaliteit te monitor.”
Die Drakenstein-munisipaliteit het ook in ’n verklaring gesê die risiko dat die dam se wal kon ingee, is intussen uitgeskakel.
Barnard het gesê haar departement gaan ’n komitee in Newton van stapel stuur wat onder meer opgelei gaan word in die uitvoering van die munisipaliteit se noodplan.
Enkele inwoners het op verlede week se vergadering geëis indien die dam nie enige “merkwaardige doel” dien nie, dit gesloop moet word.
“Hoe benefit ons as Newton-inwoners by hierdie dam? Vir wat presies word daai water gebruik? Aan die einde van die dag bly hierdie dam ’n risiko vir ons en ons eiendomme. Stoot die dam eerder toe as hy geen funksie het nie,” het een inwoner aan die paneel gesê.