Die opgradering van die Stokeryweg- en Hoofstraat-aansluiting in Wellington het begin.
Die opgradering behels die herbewerking van die teerlaag en die neerlê van plaveisel.
Volgens die munisipale bestuurder, Johann Mettler, is hierdie die volgende stap in belangrike opgraderingswerk wat in Stokeryweg plaasvind.
“Die opgradering van ’n gedeelte van Stokeryweg is vroeër vanjaar voltooi en het ’n reuse-verbetering aan die padoppervlak teweeggebring asook aan die verkeersvloei. Die opgradering van die kruising is die finale afronding van hierdie gedeelte van die opgradering,” het Mettler gesê.
Die opgradering sal ’n uitwerking hê op die verkeer wat die aansluiting gebruik omdat slegs ’n enkelbaan vir in- en uit-verkeer oop sal wees tydens die teerwerk.
’n Stop-ry-beheerpunt is in plek om die verkeer te help reguleer. Volgens Mettler is die werk geskeduleer om binne ses weke afgehandel te word.
“Die munisipaliteit versoek alle padgebruikers in die area om asseblief geduldig te wees indien hulle hierdie kruising moet gebruik. Wanneer die werk afgehandel is, sal dit tot die voordeel van die hele gemeenskap wees.”
“Drakenstein-munisipaliteit is verbind tot die opgradering en verbetering van infrastruktuur regoor die munisipale area. Van tyd tot tyd veroorsaak dit egter ongerief, maar die langtermynvoordele is tot die voordeel van almal.”
Inwoners word aangemoedig om alternatiewe roetes te gebruik waar moontlik.