’n Man wat gedeeltelik gestremd gelaat is nadat die gevreesde siekte polio hom as kind platgetrek het, het nie bly lê nie en terugbaklei om so normale lewe as moontlik te lei en sy eie sakeonderneming te bedryf.

Rudolf Samuelse is in Wellington gebore. Hy het, nadat hy dié siekte opgedoen het, bykans die gebruik van sy bene verloor en moet dus krukke gebruik om te kan loop.

Rudolf, wat by ’n skool vir gestremdes in Wellington skoolgegaan het, sê hy het daar geleer om met sy hande te werk. Hy het ná skool by ’n stofferings­maatskappy gewerk waar hy ervaring in stoffering opgedoen het.

Hy het agt jaar later sy eie onderneming begin. Hy het nie die geld gehad om toerusting te koop nie.

“Ek het die masjinerie stuk vir stuk gekoop en my salaris en ongeskiktheids­toelaag daarvoor gebruik,” onthou hy.

Rudolf se onderneming vorder goed, maar sommige dae lyk dinge nie so rooskleurig nie.

“In die somer vorder sake goed, maar in die winter is dit maar aan en af.”

Hy vertel ook dat die dak lek en dat water onder by die plek waar hy werk, inkom.

Die ander uitdaging wat hy ondervind, is dat daar baie min plek is vir banke om te staan nadat hy daarmee klaar is.

Hy het al baie vir hulp gevra en by die Drakenstein-munisipaliteit aangeklop. Hy het entrepreneurs­vergaderings bygewoon wat by die Drakenstein-munisipaliteit gereël is en voorstelle gedoen.

Sy voorstelle was, onder meer om kinders te help wat dwelms gebruik en om gestremdes stoffering te leer. Die munisipaliteit het nie gehelp nie, maar iemand wat kom help het, het Rudolf se idee gesteel.

Rudolf sê hy is bang om uit te reik na mense, maar hy het hulp nodig.. Enigiemand wat Rudolf met ’n groter ruimte wil of kan help, kan hom by 073 803 5812 bel.

You need to be Logged In to leave a comment.