Die FAK (die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings) bied in Augustus vanjaar ’n nasionale Afrikaanse geskiedenisolimpiade aan. Die aanlyn toets is oop vir leerders van graad 8 tot 12 om hul kennis te toets en te verbreed.

Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis met drie hoofafdelings, naamlik Afrikaanse taalgeskiedenis, Afrikanergeskiedenis en Westerse geskiedenis.

Die geskiedenisolimpiade sal uit twee rondes bestaan. Die eerste ronde behels ’n aanlyn vraestel wat bestaan uit 150 punte met 150 multikeusevrae – 50 punte vir elke afdeling.

Diegene wat deurdring na die tweede ronde skryf ’n aanlyn vraestel waar standpuntstelling, beredenering en algemene kennis getoets word.

Die algehele wenner ontvang R10 000; die tweede prys is R5 000 en die derde prys R2 500.

Die wenskool kry R10 000 en ’n FAK-wisseltrofee.

Die wenskool sal bepaal word na aanleiding van die aantal leerders per skool wat deelneem en ’n sekere persentasie ontvang.

Leerders kan reeds van nou af vir hierdie geskiedenisolimpiade by olimpiade.fak.org.za inskryf. Alle navrae kan gestuur word aan chrisna@fak.org.za

You need to be Logged In to leave a comment.