Steun ná verlies van ’n kind

Een minuut lewe jy jou lewe vir jou kinders en hul toekoms, en die volgende oomblik verander jou wêreld en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.


Een minuut lewe jy jou lewe vir jou kinders en hul toekoms, en die volgende oomblik verander jou wêreld en niks sal ooit weer dieselfde wees nie.

The Compassionate Friends (TCF) is ’n steungroep wat enige bedroefde ouer help om weer in die wêreld aan te pas, want ’n ouer wat ’n kind aan die dood moes afstaan, voel asof niks meer saak maak nie en dat hulle nie hier hoort nie.

Vanjaar is dit ’n voorreg vir TCF Paarl & Wellington om alle gebroke ouers, nabye familielede en belangstellendes uit te nooi na sy nasionale jaarlikse byeenkoms wat van 8 tot 10 November by die Middelplaas-gastehuis in die Paarl plaasvind.

TCF het ’n verskeidenheid gassprekers, plaaslike kunstenaars en terapeute wat deel van die naweek se program is.

Onder meer deel die bekende Angeline Willard, ’n mamma, haar verhaal oor die dag toe haar lewe ’n 180°-ommeswaai gemaak het en sy haar kinders in ’n tragiese motorongeluk verloor het.

Haar dogter, Jolanda Jegels, wat ook deel was van die trauma en dit oorleef het, vertel van die invloed wat dit op haar lewe gehad het, hoe sy haar lewe lei sonder haar boetie en sussie wat sy gedink het saam haar sou oud word en wat haar verder in die lewe motiveer.

Vanjaar se tema is “liefde” en almal weet liefde het geen ouderdom, beperking of einde nie en oorwin alles.

Die byeenkoms bied ’n veilige platform aan alle gebroke ouers en familielede oor ons diverse land heen om die lewe van hul geliefde kinders te vier en nuwe hoop te skep by die naweek se motiveringsprekers en onder mekaar.

Registrasie is oop en die sluitingsdatum hiervoor is 15 Oktober.

. Vir navrae en registrasie- besonderhede e-pos wellingtontcf@gmail.com of skakel 061 841 5020 of 071 678 7848 met navrae.

. Besoek ook die Facebookblad The Compassionate Friends Wellington & Paarl vir meer inligting.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.