Kapenaars en besoekers sal die skitterende sterrehemel – spesifiek die planeet Jupiter – hierdie Saterdag (17 Desember) van nader tydens die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) se somerpiekniek op Paarlberg leer ken.
Dit hou groot belofte in om ’n feestelike aand in die beeldskone omgewing te wees. Boonop is ’n pragtige sonsondergang en ’n gratis besoek aan die ikoniese beeldhouwerk ingesluit, en dié aand is ten bate van ’n goeie saak.
Gaste kan die heelal verken met behulp van die Orion-observasiegroep (OOG) se lede, wat graag hul kennis en teleskope gratis deel. Die fokus is op die planeet Jupiter – naas die maan en Venus die grootste en helderste voorwerp in die sonnestelsel. Dit is bekend as die gasreus met mooi sigbare mane, en word reeds sedert die voorgeskiedenis waargeneem.
Die pieknieks is gewild onder plaaslike inwoners en oorsese besoekers wat veral die mooie vergesigte van die valleie, berge en skiereiland geniet. Besoekers is welkom om hul eie pieknieks en drankies (geen glas) te bring of vooraf ’n piekniekmandjie by Die Suikerkan by 082 216 2510 of 082 856 1871 of info@diesuikerkan.co.za te bestel – hierdie koffiewinkel sal ook verversings tydens die geleentheid verkoop. Gaste word aangemoedig om die omgewing te verken en die monument, ’n simbolieke beeldhouwerk sonder weerga, te besigtig. ’n Gratis begeleide toer om dit alles te verduidelik begin om 18:30. Buitelug-speletjies en speelparke vir die kinders is beskikbaar. Onthou asseblief verkykers en warm kleding. Genoeg veilige parkering is gratis beskikbaar.
Die piekniekreeks word aangebied ten bate van “Laat ons Lees!”, die Taalmonument se geletterdheidsprojek vir kinders, derhalwe word piekniekgangers gevra om nuwe of tweedehandse kinderboeke te skenk.
Die geleentheid begin om 18:00 waarna besoekers van 20:00 tot 22:30 deur die teleskope na die hemelruim kan tuur. Die toegangsprys is R50 per volwassene en R15 vir onder-18’s; kaartjies is by Computicket of die hek beskikbaar, maar bespreking by 021 863 0543/4809 of bemarking2@taalmuseum.co.za) is noodsaaklik sodat vir genoeg teleskope voorsiening gemaak kan word.
Sterrekykpieknieks sal helaas gekanselleer word indien die weer nie saamspeel nie – skakel 073 853 3100 of 083 544 6510 vir weernavrae op die dag self. Vooraf gekoopte kaartjies kan oorgedra of vergoed word. Die volgende Sterrekykpieknieks is op 14 Januarie, 11 Februarie en 11 Maart 2023.. Vir nog inligting oor al die ander opwindende geleenthede, konserte en kursusse by die Taalmonument en -museum, skakel 021 872 3441 of 021 863 0543, besoek taalmonument.co.za of volg hulle op Facebook. Die webtuiste bied boonop virtuele toere van die monument en museum, inligting in ses tale oor die simboliek van die Taalmonument asook baie interessante artikels oor Afrikaans, veeltaligheid en die instelling se verlede, hede en toekoms. Heelwat bronne vir skool- en navorsingsprojekte is ook beskikbaar.
Jaarpermitte kos slegs R120 vir individue of R220 per gesin, wat toegang tot alle Volmaanpieknieks insluit. Die Suikerkan bied daagliks heerlike kos en pragtige vergesigte.

