Die ingang na Wemmershoek tussen die Paarl en Franschhoek. Foto: Rasaad Adams


’n Groep inwoners van die Stellenbosch-munisipaliteit se Wyk 3 wat Wemmershoek, Meerlust en Lanquedoc insluit, eis die onmiddellike ontbinding van hul wykskomitee wat glo ondemokraties verkies en deur hul DA-raadslid met die hand aangewys is.

Die groep, wat hulself die Concerned Ward 3 Residents noem, het vandeesweek aan Paarl Post gesê die sewe lede wat tans in Charles Manuel se wykskomitee dien, is ongrondwetlik aangewys aangesien daar glo nie ’n verkiesing plaasgevind het nie.

“Hier het geen vergadering vir die verkiesing van ’n wykskomitee plaasgevind nie. Die raadslid het sy eie diskresie gebruik en self besluit wie hy in sy komitee wil hê. Dit was ’n ondemokratiese proses,” het Isaac Davids, ’n Wemmershoek-inwoner verbonde aan die groep, aan Paarl Post gesê.

Boonop is hierdie wykskomitee glad nie verteenwoordigend van ons breër gemeenskappe nie. Ideaal gesproke sou ’n mens verwag het dat daar gemeenskapsleiers en organisasies uit die verskeie gebiede in die komitee moet dien. Tans is dit net mense wat die raadslid en sy party se belange verteenwoordig.
Isaac Davids, Wemmershoek-inwoner

Volgens Davids het ’n groot deel van die wyk se inwoners “nie ’n idee wie hul wykskomitee of raadslid is nie”.

“As daar gegaan word na gebiede soos veral Meerlust, waar mense in moeilike omstandighede leef, het hulle nie ’n benul wie hul leiers is en waar hulle griewe kan opper nie. Wanneer mense wel diensleweringsprobleme wil rapporteer word hulle deur ’n ontoeganklike raadslid weggewys.

“Boonop is hierdie wykskomitee glad nie verteenwoordigend van ons breër gemeenskappe nie. Ideaal gesproke sou ’n mens verwag het dat daar gemeenskapsleiers en organisasies uit die verskeie gebiede in die komitee moet dien. Tans is dit net mense wat die raadslid en sy party se belange verteenwoordig.”

Volgens Davids het Manuel inwoners vir sy wykskomitee aangewys “wat hy maklik kan manipuleer”.

“Dit is almal mense met DA- belange. Daar is nie organisasies soos ’n belastingbetalersvereniging nie. Net verlede week het hy sommer iemand telefonies ingelig dat hy ’n vakante pos gaan vul.

“Ons het al hierdie kwessies by die Speaker van Stellenbosch se raad gerapporteer, maar wag tot vandag toe nog op ’n antwoord.”

Manuel het nie vandeesweek op Paarl Post se oproepe en boodskappe gereageer nie.

Sommige inwoners van die Stellenbosch-munisipalite

Sommige inwoners van die Stellenbosch-munisipaliteit se wyk 3 wat Wemmershoek, Meerlust en Lanquedoc insluit, beweer hul wykskomitee is deur die raadslid met die hand aangewys.

Quintin Smit, die Stellenbosch-munisipaliteit se Speaker, het by navraag aan Paarl Post gesê die raad neem kennis van die bewerings en dat ’n ondersoek deur sy kantoor geen onreëlmatighede gevind het nie.

“Wyk 3, net soos al ons ander wyke, se wykskomitee- verkiesing het ingevolge munisipale wetgewing- en beleide plaasgevind.

“Ek kan met absolute sekerheid sê dat daar geen onreëlmatighede hier gevind is nie.

“Bepaalde wetgewing, met die oorsig van die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK), vereis dat verkiesings geadverteer word sodat almal wat hulself verkiesbaar stel die geleentheid gegun word,” het Smit gesê.

Davids het in reaksie hierop gesê Smit en hul raadslid is kop in een mus, en dat hulle beplan om die aangeleentheid by die departement vir samewerkende regering en tradisionele sake in die Wes-Kaap te opper.

You need to be Logged In to leave a comment.