Die plaaslike organisasie Concerned Drakenstein Residents (CDR) het uitgevaar teen die munisipaliteit se belofte van 461 openbarewerkeprogram-werksgeleenthede. Foto: Drakenstein-munisipaliteit
Die plaaslike organisasie Concerned Drakenstein Residents (CDR) het uitgevaar teen die munisipaliteit se belofte van 461 openbarewerkeprogram-werksgeleenthede. Foto: Drakenstein-munisipaliteit

Stephen Korabie, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende burgemeester, se belofte dat die munisipaliteit sowat 461 werksgeleenthede deur sy uitgebreide openbarewerkeprogram (EPWP) in die nuwe finansiële jaar gaan skep, het kritiek uit verskeie oorde ontlok.

Korabie het in sy onlangse begrotings- rede aangekondig dat R21,6 miljoen vir dié program begroot is.

Altesaam R18,3 miljoen kom uit die munisipale koffers, terwyl die nasionale departement van vervoer en openbare werke R3,3 miljoen sal bydra.

Een organisasie wat teen die beplande werkskepping uitgevaar het, is die Concerned Drakenstein Residents (CDR)- groep wat ook in die raad verteenwoordig is. CDR bevraagteken hoekom werkers in dié munisipale program selde permanent aangestel word.

“EPWP is bloot om jou voet in die werksmark te kry. Dit is dus tipies vir mense wat nie rekenaarvaardig en gekwalifiseerd is nie,” verduidelik die CDR-leier Bazil Jacobs.

“Ons moet egter ‘n punt bereik waar hierdie mense met langtermyn- en volhoubare werksgeleenthede voorsien word – veral as die munisipaliteit R18 miljoen daaraan bestee.

“Sommige van ons eie wetstoepassers is in dié program aangestel. Dit beteken as daardie kontrakte eindig, sit hulle sonder werk. Hierdie is ons eie mense wat so benadeel word.”

Volgens Jacobs is daar tans sowat 600 vakante permanente poste by die munisipaliteit.

Jacobs vaar verder uit teen die munisipaliteit se benadering tot die toekenning van tenders en sê dit was nog altyd die CDR se standpunt dat plaaslike ondernemings voorkeur moet kry.

“Wanneer die begroting weer voorgelees word, wil ons weet presies hoeveel tenders daardie jaar uitgereik is en hoeveel daarvan aan plaaslike sakeondernemings toegeken is. Dit is Drakenstein se inwoners wat die meeste tot die munisipale koffers bydra, dus moet hulle meer geleenthede kry.”

Laurichia van Niekerk, die munisipaliteit se burgemeesterskomiteelid vir toerisme, sport en ontspanning, het op ‘n onlangse debat wat na afloop van die begrotingsrede deur Paarl Post aangebied is, na die kritici teruggekap.

“Dit bring verligting vir huisgesinne wat geen inkomste het nie. Dit is tydelik, maar dit voorsien iemand van ‘n inkomste vir drie tot ses maande.

“Die EPWP-projekte fokus ook nie net op mense sonder kwalifikasies nie. Daar is ook gespesialiseerde afdelings, soos elektries, waar werkers ‘n bietjie meer verdien.”

Sy het gesê baie van die sowat 600 vakante poste waarna Jacobs verwys, is nie gefinansier nie.

“Die nasionale norm is dat munisipaliteite tussen 25% en 30% van hul begroting aan salarisse bestee,” het Van Niekerk verduidelik.

“As die munisipaliteit dus al hierdie poste gaan vul, gaan dit beteken dat ons groot bedrae aan salarisse bestee, wat vir dienste aangewend kon word.”

You need to be Logged In to leave a comment.