Hoekom ek spesiaal ’n gebakte snoekkop gekoop het om te eet terwyl ek op die eerste uitslae van die veelbesproke Algemene Verkiesing wag, weet ek nie. Hierdie Boesmalander, wat ná 45 jaar in Wellington steeds ’n Inkommer is, het sowaar ’n gebakte skaapkop verruil vir ’n viskop. Sit en wonder ek toe of dit dalk ’n voorteken is van die resultaat van die verkiesing?
Nie dat daar iets onheilspellends aan ’n viskop is nie, maar het ons land dan nie juis hier beland weens die waarheid van die antieke spreekwoord “ ’n vis vrot van sy kop af” nie? Dalk, net dalk, het ek in my onderbewuste gedink dis ’n simbool dat die “nuwe koppe” nie ook vatbaar vir kop-bederf sal wees nie?
Moet sê op daai oomblik het ’n skielike angs my gegryp. Voel toe dat die lojale landsburgers wat moeite gedoen het om te gaan stem, met die hoop op ’n verandering – wat ’n verbetering gaan wees – weer met die spreekwoordelike gebakte pere gaan sit; identies aan die baie vorige kere toe verkiesings gehou is waar slegs Nat en Sap op die stembriewe was. Baie makliker en goedkoper as die 39 partye en die proporsionele verteenwoordiging en al daai. Dié twee het egter verander met die Driekamer-parlement in die jare sewentig. Veel kan hieroor gesê word, maar kyk liewer na ooglopende ooreenkomste en verskille tussen die twee stelsels.
Die groot verskil is natuurlik die wyse waarop verkiesingsveldtogte gevoer is. Alle inligting is slegs via die radio en geskrewe koerante en tydskrifte gekry. Hedendaagse tegnologie was toe nie eens ’n woord nie. Nogtans het almal geweet wat hulle moet weet en almal het gedoen wat gedoen moes word – én betyds.
Vergaderings op die platteland is altyd in die kerksaal gehou – geen luidsprekers; geen polisiëring en veiligheidswagte nie. Laasgenoemde was eintlik onbekend.
Alles het konstitusioneel ordelik verloop. Harde woorde en hewige verskille ten spyt is niemand kwaaivriende daar weg nie. (Ons praat liefs nie oor huwelike tussen Sappe en Natte wat nie by ouerpare goed afgegaan het nie.)
Ek onthou dat die dorpenaars by ’n spesifieke winkel versamel het en die eerste uitslae van die 1953-verkiesing bespreek is. Een Sap het gesê die eerstes is al almal in hul guns en die Natte het nie ’n kans om hulle in te haal nie. Sê ’n vaal omie toe ewe: “Man, weet jy dan nie dat al die opdrifsels eers afkom nie en daarna kom die skoon rivierwater nie?”
Selfs op die skoolterreine was daar hewige argumente tussen die kinders. Gedurende een pouse is ’n Nat-meisie se vlegsels geruk en pluk omdat sy verskil het met die Sap-enetjie. Ou Pot, die onderhoof, het natuurlik alles dopgehou en vir hom was almal bang. Ons almal is op die netbalbaan bymekaargeroep. Hy het toe mooi, maar ferm verduidelik dat dit nie die manier is waarop ’n mens van mening verskil nie.
Op Loeriesfontein het almal almal geken en geweet wie stem wat. Die hele dorp het gegons omdat oom Piet Haak, ’n Sap-ondersteuner, se jongste seun, Van Niekerk, wat toe in standerd sewe was, die aand deur die slaapkamervenster geklim het om ’n spesifieke nasionale minister se vergadering by te woon. Soos altyd is die nadraai van die storie nooit vertel nie.
Soos nou was daar ook baie grappe en spotprente en selfs kostelike gediggies en liedjies ten koste van die teenstander. Laasgenoemde was altyd gemik teen die onderskeie leiers van die twee partye. Die Natte se leierskap het taamlik gewissel terwyl die Sappe vir jare agtereen deur De Villiers Graaff gelei is. Die reg en verkeerd van die stelsel is nie hier van belang nie, maar ek kan met trots sê dat die eerste ministers en later presidente, tot die jare tagtig, almal uitstekende tersiêre opleiding gehad het; was ook nie vroue- verneukers of vroue-onteerders nie en het definitief nie die land beroof of toegelaat om van miljarde beroof te word nie. Hulle het ook nie luukse vliegtuie gehad waarop tydig en ontydig oorsee gekerjakker of niksseggende vergaderings bygewoon is, wat meestal ’n gefuif op die belastingbetaler se rekening was nie.
O, goeie genade! Doodsdreigemente, moorde en ontvoering van kandidate of parlementariërs was nie ’n nasionale sport nie; allermins diefstal en kader- ontplooiing met salarisse en byvoordele waarvan gewone mense nog nooit eens gehoor het nie. Top-poste in politieke partye is definitief nie beklee deur ’n afgedankte regter of skurk nie. Dalk kon Zuma nie lees hoeveel aanklagte daar teen regter John Hlope was nie? Natuurlik kan hy geen idee hê hoeveel is nege miljoen stemme wat, volgens hom, “iewers heen verdwyn het” nie? Ek weet nie wie van Joe Biden van Amerika of Jacob Zuma se koppe is die minste reg nie? As dit ’n troos kan wees: in Amerika is ’n regter ook onlangs afgedank . . .
Ek hoop rêrig nie ek het die vetterige snoekkop, wat my agterna ’n Rennie gekos het, pure verniet geëet nie.