Ná een van die natste winterseisoene in jare het die VP Plus in Drakenstein gesê die munisipaliteit sal moet herbesin oor hoe hy die instandhouding van sy padnetwerk prioritiseer te midde van slaggate en verkrummelende teer- oppervlaktes wat feitlik oor die hele vallei voorkom.
André Fourie, ’n VP Plus-raadslid, het vandeesweek aan Paarl Post onthul dat onlangs op ’n vergadering van die portefeuljekomitee belas met infrastruktuur bespreek is dat ’n pypnetwerk van 600 km in ’n toestand van verbrokkeling is.
Hy het gesê die munisipaliteit kon oor die afgelope paar jaar slegs 200 km van die pype herstel of vervang.
Volgens Fourie kan die huidige stand van die munisipaliteit se paaie toegeskryf word aan nie net die abnormaal nat winterseisoen nie, maar ook ’n gebrek aan infrastruktuur.
“Die toets vir enige munisipaliteit kom juis in die winter wanneer ons swaar reënval ervaar soos hierdie jaar.
“Die behoorlike instandhouding van paaie en infrastruktuur is ’n kwessie wat ons nou al baie lank in die raad opper. ’n Teerpad sal byvoorbeeld nie sommer verbrokkel as behoorlike stormwaterstelsels bestaan nie.
“Ons het onlangs op ’n portefeulje- vergadering gehoor dat slegs 200 km uit die 600 km problematiese pypnetwerk oor die afgelope paar jaar herstel is.
“Die probleem is dat die munisipaliteit nie begroot vir ’n algemene opgradering van hierdie netwerke nie, maar dit bloot gedeeltelik herstel en vervang. Dan breek dit net weer op ’n ander plek,” het Fourie vandeesweek gesê.
Volgens Fourie het die VF Plus ’n voorstel aan die portefeuljekomitee gemaak oor infrastruktuur waarin hy hoop dat die oorblywende 400 km problematiese pypnetwerk oor die volgende twee tot drie jaar herstel sal word.
Louis Pienaar, die Drakenstein-munisipaliteit se uitvoerende direkteur van ingenieursdienste, het vandeesweek aan Paarl Post erken dat die aanhoudende nat en ongunstige weerstoestande tot ’n beduidende toename in slaggate gelei het.
“Hierdie weersomstandighede het dit moeilik gemaak om slaggate permanent te herstel, en daarom het ons dit tydelik met gruis- of sementmengsels gevul. Dit sal dan later tydens droër toestande met teer bedek word.”
Volgens Pienaar prioritiseer die munisipaliteit hoofverspreidingspaaie, hooftoegangsroetes en paaie wat hoë verkeersvolumes ervaar.
“Hierdie roetes hou gewoonlik die hoogste risiko in en daarom geniet slaggate wat daarop voorkom, ’n groter voorkeur.
Hy het verder gesê inwoners en besoekers kan wel alle ander slaggate en die toestande van paaie op die SeeClickFix-toepassing aanmeld of 080 131 3553 of 021 807 4715 skakel.
“Ons streef daarna om alle slaggate so vinnig as moontlik te herstel.”