Stadsbestuurder se lot is nog nie finaal beslis nie

Die sage om die kop van die Drakenstein-munisipaliteit se stadsbestuurder, Johan Leibbrandt, is steeds nie afgehandel nie, hangende die bevestiging van ’n hofdatum vir Maart of April 2024.

Johan Leibbrandt


Die sage om die kop van die Drakenstein-munisipaliteit se stadsbestuurder, Johan Leibbrandt, is steeds nie afgehandel nie, hangende die bevestiging van ’n hofdatum vir Maart of April 2024.

Die munisipaliteit se besluit om Leibbrandt se kontrak as stadsbestuurder te verleng tot die wettige aftree-ouderdom van 65, het talle wenkbroue laat lig.

Leibbrandt se termyn het in 2022 verstryk en die pos van Drakenstein-stadsbestuurder is wel geadverteer.

Maar nog vroeg in die aanstellingsproses van ’n nuwe munisipale bestuurder, het die munisipaliteit se burgemeesterskomitee eenparig besluit dat Leibbrandt se termyn met nog vyf jaar verleng moet word.

Die Ministerie van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) het die aansoek afgekeur om Leibbrandt se termyn te verleng en die DM is ses maande vergunning gegee om ’n nuwe munisipale bestuurder aan te wys.

Die munisipaliteit het die besluit egter teengestaan en die saak draai nou in die hof, wat gelei het tot ’n tussentydse hofbevel wat bevestig dat Leibbrandt mag voortgaan om sy taak te verrig.

Die onder-burgemeester, Gert Combrink, het gesê die munisipaliteit se vrystellingsaansoek is nie uniek nie, aangesien daar in die Wes-Kaap en die res van die land ander vrystellingsaansoeke was wat wel goedgekeur is.

Drakenstein se vrystellingsaansoek het ook meer meriete as ander aansoeke wat goedgekeur is, sê Combrink.

“Ons beskou dus die besluit om die vrystellingsaansoek van die hand te wys, as die onwettige uitoefening van openbare mag.

“Die pos van stadsbestuurder is nasionaal geadverteer. In reaksie hierop is agtien aansoeke ontvang, waarvan vyf kandidate op ’n kortlys geplaas is, en twee kandidate het later hul aansoeke teruggetrek. Die aansoekproses het die tekort aan geskikte gekwalifiseerde en diverse kandidate in Suid-Afrika uitgewys.”

Combrink hou vol dat daar geen geskikte aansoeke was nie en dat Leibbrandt steeds die beste persoon is om die taak te verrig.

“ ’n Munisipale bestuurder op plaaslike regeringsvlak behels ’n vyfjaarkontrak sonder werksekerheid, selfs as jy uitstekend presteer. Elke vyf jaar word die pos weer geadverteer en moet die posbekleër heraansoek doen. Jonger professionele mense in permanente poste is huiwerig om hierdie werksrisiko (vyfjaarkontrak) te aanvaar.”

Leibbrandt het sy amp in 2017 aanvaar, op ’n tyd toe Drakenstein deur ernstige finansiële en diensleweringsuitdagings in die gesig gestaar is.

“Die ommekeer en verbeterings in albei aspekte spreek vanself,” sê Combrink.

“Die stadsbestuurder se heraanstelling en vrystellingsaansoek is deur al 11 politieke partye gesteun, en die stadsbestuurder het steeds die volle ondersteuning van alle politieke partye, omdat hulle besef watter bydrae hy lewer. Leibbrandt was verreweg die beste kandidaat en dit is ook bevestig deur die betrokke onderhoudspaneel en ’n onafhanklike menslikehulpbronpraktisyn. Hy het vele munisipale bestuursposte beklee en ook die Suid-Afrikaanse en Keniaanse regering bygestaan met advies en was ’n direkteur by PricewaterhouseCoopers (“PwC”).”

Leibbrandt is onlangs deur die Noordwes-universiteit met die titel “Professor van Praktyk” in Plaaslike Regering vereer en, sê Combrink, is as sodanig ’n mentor vir jong en professionele studente.

Sy aanstelling was inderdaad die beste besluit en in die beste belang van die Drakenstein-munisipaliteit en sy inwoners.

Combrink kon nie die vraag beantwoord oor wat die regskostes van hierdie saak beloop nie en het gesê die inligting sal eers beskikbaar wees sodra die saak afgehandel is.

You need to be Logged In to leave a comment.