’n Veiligheidswag en sy hond doen Maandag (10 Junie) patrolliewerk by die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington. Foto: Rasaad Adams


Die Drakenstein-munisipaliteit het ’n beroep op die gemeenskap in die omgewing van die Pelikaanpark-sportterrein in Wellington gedoen om eienaarskap te neem van dié veld se fasiliteite te midde van ’n toename in vandalisme en rooftogte op veiligheidswagte wat by die veld patrollie doen. Nog ’n veiligheidswag is die afgelope naweek in die nagtelike ure beroof.

’n Betroubare bron by die munisipaliteit het vandeesweek aan Paarl Post gesê dat ’n aantal aanslae op die veiligheidswagte sedert die begin van die jaar aangemeld is.

“Daar is gevra dat minstens twee veiligheidswagte per nag by die veld patrolleer, want daar is op die oomblik net een.

“Die persoon wat daai call kan maak wil egter nie versterkings vra nie.

“Pelikaanpark raak ’n hotspot. Dit het nou gevaarlik geraak vir een veiligheidswag in die nag.

“Die mense word van hul besittings beroof en dikwels word hulle sommer rewolwers in die rooftogte gedreig,” het die bron aangevoer.

Paarl Post verstaan dat die veiligheidswagte deur die munisipaliteit aangestel is te midde van die vlaag van aanslae op die sportveld.

Die veld se veiligheidshekke, deure, muurproppe en ander voorwerpe wat as skroot kan dien, word geteiken, het Eda Barnard, die munisipaliteit se waarnemende uitvoerende direkteur van gemeenskapsdienste, by navraag gesê.

Sy sê hierdie voorvalle word maandeliks aangemeld.

“Die Drakenstein-munisipaliteit stel veiligheidswagte aan as ’n maatreël om visuele beveiliging te bevorder en só misdaad te help bekamp.

“Die munisipaliteit beskou hierdie soort optrede teen sy personeel en ander beamptes in ons diens in ’n baie ernstige lig – soveel so dat ons Donderdag 6 Junie ’n dringende vergadering met al die rolspelers gehou het om hierdie situasie aan te pak.

“Die uitvoerende burgemeester en lede van die burgemeesterskomitee was ook teenwoordig.

“Die munisipaliteit ondersoek tans moontlike oplossings saam met die onderskeie vennote om die beste oplossing vir die toekoms te vind.”

Barnard het verder gesê “die vlaag vandalisme is ’n groot bron van kommer vir die munisipaliteit”.

“Toepaslike veiligheidsmaatreëls soos diefwering en elektriese omheinings is gebruik, maar het sedertdien ook onder hierdie vandale deurgeloop.

“Soos bo vermeld, word tans na meer volhoubare oplossings gekyk.”

’n Paviljoen se plate word een vir een gesteel nad

’n Paviljoen se plate word een vir een gesteel nadat dit in Mei vanjaar weens die gure weer omgetuimel het. Foto: Rasaad Adams

Tydens Paarl Post se besoek aan die sportveld Maandag (10 Junie) het een van die paviljoene op sy sy gelê. Dit is vermoedelik weens die gure weer vroeg in Mei.

’n Aantal plate van dié paviljoen was Maandag reeds verwyder, vermoedelik deur die vandale wat die veld voortdurend teiken.

Die bron by die munisipaliteit sê die skade aan die paviljoen is by die betrokke versekering aangemeld en hulle wag op terugvoer.

Volgens kol. Johan Barkhuizen, stasiebevelvoerder by die Wellington-polisiekantoor, word die afgelope naweek se rooftog ondersoek.

You need to be Logged In to leave a comment.