Die staat sê as deel van sy laaste bydrae in die borgtogaansoek van ‘n 55-jarige man wat tereg staan staan weens die besit en verspreiding van kinderpornografie sal hy eerskomende Maandag (27 Oktober) ook ‘n verklaring aan die hof voorlees deur ‘n Franschhoekse inwoner wat die vrylating van die beskuldigde teenstaan.
Die borgtogaansoek van die man, wie se identifiteit weerhou word om die minderjarige slagoffer te beskerm, is vandag (24 Oktober) weer in die Paarl-landdroshof voortgesit.
Die man is op 16 Augustus by sy woning in Franschhoek in hegtenis geneem nadat ‘n video op sosiale media gesirkuleer het waarin hy glo seksueel verkeer met ‘n 16-jarige meisie in haar skooldrag.
LEES OOK: Franschhoekse ‘sekspes’ betas glo ook 11-jarige meisie, hoor hof in borgaansoek
Die beskuldigde se regsverteenwoordiger het vandag voortgegaan om die ondersoekbeampte in die saak te kruisondervra.
Dit was ‘n vurige kruisondervraging waartydens die staatsaanklaer asook die landdros by tye moes inspring om die situasie te bemiddel.
Die verdediging het AO James Smith, verbonde aan die provinsiale polisiekantoor se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe (GKS), se getuienes tydens ‘n vorige verskyning in twyfel getrek toe Smith getuig het dat die beskuldigde glo vir ‘n tydperk die Strand-omgewing “weggekruip” het.
Volgens die verdediging was dit nooit die beskuldigde se intensie om van enige vervolging te vlug nie, en was hy van die begin af bereid om sy samewerking vir die polisie te gee.
Die verdediging het ook Smith se getuienis verwerp dat die beskuldigde se lewe op die dag van sy inhegtenisneming in gevaar was toe gemeenskapslede glo buite sy woning oproerig geraak het.
Smith het voorheen getuig dat daar ‘n skare mense tydens die inhegtenisneming buite die man se woning was, en die polisie die man se gesig moes bedek.
Die verdediging hou vol dat die beskuldigde geen gevaar vir die gemeenskap inhou nie (asook andersom) en nie sal vlug sou hy op borgtog vrygelaat word nie.
Die staatsaanklaer het Vrydag gesê as deel van die staat se finale bydrae oor hoekom hy die man se vrylating teenstaan, sal hy na verwagting Maandag (27 Oktober) ook ‘n verklaring deur ‘n inwoner van Franschhoek aan die hof voorlees.
Dit is in hierdie stadium nog onduidelik wanneer die hof uitspraak in die borgtogaansoek sal lewer.
Die beskuldigde is ‘n veroordeelde seksmisdadiger wat in 2017 aan statutêre verkragting van ‘n 17-jarige skuldig bevind is.
Hy is in daardie stadium deur die Paarl-streekhof ‘n opgeskorte vonnis opgelê.





