Mela Botha (17)


Nelson Mandela het gesê: “Die jeug van vandag is die leiers van môre”.

Dit is vanjaar die 44ste herdenking van die Soweto-jeugopstand. Jeugdag word elke jaar op 16 Junie gevier en in Suid-Afrika is dit ’n nasionale openbare vakansiedag.

Ons word herinner aan die jong mense wat opgestaan het teen ongelykheid en onregverdigheid, maar Jeugdag gaan egter nie net oor die verlede nie – dit gaan oor die hede sowel as die toekoms. Dit is ons almal se toekoms, ongeag jou herkoms, kultuur, ras en geloof. Jeugdag moet gaan oor die soort samelewing waarin ons jong mense van vandag oor 20 jaar wil woon. Die jeug moet besef hulle het ’n verantwoordelikheid om ons diverse land op te bou.

Die tyd om hande in die lug te gooi en te sê Jeugdag het niks met my te doen nie, of ek is te jonk; wat kan ek doen, is verby. As jy nog nooit Jeugdag gevier het nie, is 16 Junie 2020 jou kans.

Begin deur jong mense om jou in die oë te kyk as julle kommunikeer, want dit beteken “ek sien jou raak; ek erken jou as gelyke”. Klein dingetjies kan lei tot groot veranderinge.

Jeugdag moet vir elke jong mens in Suid-Afrika ’n dag van besinning wees. Ons wil tog almal ’n beter toekoms hê.

Die jeug sal hul plekke in Suid-Afrika moet inneem en ons sal moet werk aan wederkerige respek, nasiebou, menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

Kom ons wees die generasie wat die verskil maak.


“Sometime it falls upon a generation to be great. You can be that great generation. Let your greatness blossom!” ~ Nelson Mandela


. Mela Botha is ’n lid van die Paarl Junior stadsraad (JSR) en was onlangs deel van ’n groepsgesprek gelei deur dr. Johan Beukes van In Harmonie, in samewerking met Paarl FM, oor hul begrip van Jeugdag en die rol wat die jeug kan speel om ’n betekenisvolle bydrae in die samelewing te lewer. Hierdie verslag bevat die kern van Mela en haar mede JSR-lede se groepbespreking.

You need to be Logged In to leave a comment.