Statistieke Suid-Afrika het die maatskaplike- en huishoudelike diensleweringstatistieke vir 2021 gepubliseer, en dit wys dat die Covid-19-pandemie ’n groot rol in die alledaagse lewe speel – veral vir die jonger geslag sowel as lae-inkomste­groepe.

Die Algemene Huishoudelike Opname (GHS) volg die vordering van ontwikkeling in Suid-Afrika en identifiseer volgehoue ??diensleweringsgapings deur kwantitatiewe navorsingsmetodes te volg. Die volgende data is in 2021 versamel:

Leerders en studente

Covid-19 het die aard van kindersorgreëling verander. Die persentasie kinders van 0-4 jaar, wat by die huis gebly het, het toegeneem van 57,8% in 2019 tot 64,6% in 2021. Terselfdertyd het die persentasie kinders wat graad R-, kleuterskool- en onderwyssentrums besoek het van 36,8% in 2019 tot 28,5% in 2021 afgeneem.

Die pandemie het ook skoolbywoning negatief beïnvloed, aangesien die persentasie vyfjarige kinders wat nie ’n onderwysinstelling bygewoon het nie, van 10,9% in 2019 tot 37,7% in 2020 toegeneem het voordat dit weer tot 19,4% in 2021 gedaal het.

Die persentasie individue wat 20 jaar en ouer is en geen opleiding ontvang het nie, het van 11,4% in 2002 tot 3,2% in 2021 afgeneem, terwyl diegene met ten minste ’n matriekkwalifikasie van 30,5% tot 50,5% toegeneem het.

Maatskaplike toelaes

. Die bekendstelling van die Covid-19-toelaag vir noodverligting in 2020 het ’n belangrike rol vervul om huishoudings teen die verlies aan inkomste gedurende hierdie tydperk te beskerm.

Toelaes was die tweede belangrikste bron van inkomste (51,0%) vir huishoudings ná salarisse (59,4%), en die hoofbron van inkomste vir sowat een vyfde (24,4%) van alle huishoudings.

’n Groter persentasie huishoudings het toelaes as salarisse as ’n bron van inkomste ontvang.

In die Vrystaat was die verhouding 60% toelaes teenoor 53,2% salarisse; die Oos-Kaap het 63,7% teenoor 46,2% gewys; Limpopo was 65,7% teenoor 49,7% en Mpumalanga 66,2% teenoor 50,9%.

As gevolg van die hoë aanvraag na die R350-toelaag het die persentasie individue wat toegang tot toelaes verkry het, tot 35,7% in 2021 gestyg, terwyl die persentasie huishoudings wat minstens een toelaag ontvang het, in 2021 tot 50,6% toegeneem het.

Landwyd het 5,8% individue in 2021 toegang tot die Covid-19-toelaag gekry.

Watertoegang

Die persentasie huishoudings met toegang tot water het tussen 2002 en 2021 van 84,4% tot 88,7% toegeneem.

Die stygings was meer opvallend in die Oos-Kaap (+ 14,9 persentasiepunte) en KwaZulu-Natal (+ 11,6 persentasiepunte).

Toegang tot water in ander provinsies het tussen 2002 en 2021 in ses provinsies afgeneem. Die grootste afname is waargeneem in Limpopo (-4,4 persentasiepunte), Mpumalanga (-4,3 persentasiepunte) en Noordwes (-2,2 persentasiepunte).

Sanitasie

Sanitasie het tussen 2002 en 2021 met 22,4% toegeneem – van 61,7% tot 84,1% landswyd.

Die grootste verbetering het in die Oos-Kaap plaasgevind, waar verbeterde sanitasie met 58,3% tot 91,7% gestyg het, terwyl dit in Limpopo van 31,6% tot 58,5% verbeter het.

Die installering van puttoilette met ventilasiepype het ’n belangrike rol in die bereiking van hierdie groot stygings gespeel.

Elektrisiteitstoevoer

’n Toename in die persentasie huishoudings wat van 76,7% in 2002 tot 89,3 % in 2021 aan die elektrisiteitstoevoer gekoppel was, het gepaard gegaan met ’n afname in die gebruik van hout (20,0% tot 7, 7%) en paraffien (16,1% tot 3,5%) oor dieselfde tydperk.

Die algemene gebruik van hout en kole vir kookdoeleindes in landelike provinsies soos Limpopo (32,9%) en Mpumalanga (21,0%) is ’n aanduiding dat alternatiewe hulpbronne meer toeganklik is as elektrisiteit.

Meer as een vyfde (22,3%) van huishoudings landswyd het in 2021 nie elektrisiteit vir kookdoeleindes gebruik nie.

You need to be Logged In to leave a comment.