“Sport is my lewe en my lewe is my sport. Die rede hoekom ek so sê, is omdat sport die beste ding in die wêreld is, en ek hou baie van sport.”

Dít is die woorde van Nathan Jacobs, ’n veelsydige sportman wat aan atletiek deelneem en rugby en krieket speel.

Hy neem al sedert sy dae by Magnolia Primêr aan sport deel. Op laerskool het hy al sy talent gewys toe hy meer as een keer die Boland by sportbyeenkomste verteenwoordig het.

Vandag is hy New Orleans Senior Sekondêr se o.19A-krieketkaptein en hy draf ook as die skool se o.19A-rugbyspan se regtervleuel uit.

Nathan is een van talle atlete wat vroeër vanjaar aan die ASA- atletiekkampioenskap in Boksburg deelgeneem het. Wat sy rugbyloopbaan betref, het hy en sy span Klein Nederburg Senior Sekondêr tydens hul jaarlikse derby-wedstryd gepak.

New Orleans het gewen.

Vir Nathan is sy groot liefde eintlik krieket, en hy droom daarvan om eendag Suid-Afrika te verteenwoordig en lid van die Proteaspan te wees. Hy was in 2019 lid van die SA Colts-o.19-krieketspan en verlede jaar het hy die SA Skole se o.19-krieketspan verteenwoordig.

Nathan is die afgelope drie jaar sedert 2019 ook lid van die o.19- Cobra Cubs-krieketspan, en een van sy grootste prestasies is dat hy vroeër vanjaar as die Boland-o.19-krieketspan se speler van die jaar aangewys is.

“Eerstens is dit my liefde vir die sport wat ek beoefen [wat my gemotiveerd hou]. Ek wil met elke sportkode net my beste gee. Tweedens, wat my ook motiveer, is om bo my omstandighede uit te styg en net die regte besluite te neem. Ek sal graag my studies by Maties wil voortsit.

“Dan wil ek graag vir die Boland- akademiese span of Maties se span krieket speel. My droom is om eendag vir die Proteas te speel.”

Nathan is altyd betrokke by sport, selfs in sy vrye tyd. Hy sê wanneer hy die kans kry, oefen hy saam met die Paarl Rocks-span en hy speel ook aksiekrieket vir die Magnolians Super Kings. Hy wil ander jongmense aanmoedig om hard aan hul drome te werk, ongeag watter stryd hulle in die gesig staar.

“God gee sy moeilikste stryd aan sy sterkste soldate, maar dit hang ook van jou as mens af wat jy met jou stryd gaan doen. Gaan jy dit gebruik om daarop te sit, of gaan jy dit as stepping stones na jou drome gebruik?”

Vir dié 19-jarige, wat as Paarl Post se hoërskool-sportster vir Augustus aangewys is, beteken dit baie dat sy familie hom in sy drome ondersteun.

“My oupa het altyd saam met my geloop, al het dit gereën. Ek het by tye nie lus gehad om te gaan oefen nie, dan het hy altyd gesê: ‘My kind, dis vir jou eie toekoms’. Al het ek waar gespeel, het my oupa en broertjie kom kyk. Ek sal my oupa se woorde altyd onthou: ‘Ek sien jou as SA se openingsbouler.’

“Vandag is hy nie meer saam met ons as familie nie, maar ek sal hom elke dag trots maak.”. The high school sport star for August is Nathan Jacobs. The 19 year old is a versatile sportsman who does athletics, rugby and cricket.

You need to be Logged In to leave a comment.