Spogpark vir Wellington binnekort oop

Victoriapark, die eertyds spogpark in die hart van Wellington is besig om geleidelik sy kleed van uiterste verwaarlosing wat die afgelope dekade oor hom kom lê het af te gooi en om in ’n splinternuwe gedaante na vore te tree.


Victoriapark, die eertyds spogpark in die hart van Wellington is besig om geleidelik sy kleed van uiterste verwaarlosing wat die afgelope dekade oor hom kom lê het af te gooi en om in ’n splinternuwe gedaante na vore te tree.

Minder as ’n dekade gelede het Victoriapark weggesteek gelê agter hordes straatsmouse se flenterstalletjies. Ondanks die prominente rol wat die park in die geskiedenis van Wellington gespeel het, het toeriste selde deur sy spoggerige gietysterhekke gestap. Snags was dit ’n gewilde oornagskuiling vir tientalle sluipslapers.

Drie jaar gelede het die droewige prentjie dramaties verander. Die straatsmouse is aangesê om na ’n nuwe terrein wat spesiaal vir hulle ingerig is te trek, en Victoriapark se imposante hekke was vir die eerste keer in baie jare weer sigbaar vanuit Kerkstraat.

’n Gemeenskapsprojek is onder leiding van Amanda Kreitzer van Wellington op die been gebring om die park weer tot sy eertydse glorie te herstel. Pragtige roostuine is onder leiding van die bekende rooskenner, Gwen Fagan, van Kaapstad geskep, grond vir nuwe grasperke is voorberei en groot lappe gras is aangeplant.

“Ons het beplan om die nuwe Victoriapark einde Maart vanjaar amptelik in gebruik te stel,” het Amanda die afgelope week gesê.

“Die geweldige hitte en die droogte het ons planne lelik deurmekaar kom krap. Groot lappe gras het weens ’n tekort aan water gevrek en van ons mooiste roosbome het ook skielik begin kwyn. Ons moes noodgedwonge besluit om die amptelike opening van die park voorlopig uit te stel.”

Volgens Amanda is die projek om die park te herstel deur die gemeenskap van Wellington aangepak. Hulle was afhanklik van donasies en dit was feitlik onmoontlik om sonder ’n vaste begroting in die hand die werksaamhede te beplan en uit te voer.

“Ons het die afgelope drie jaar met rukke en stote gevorder. Hoewel dit ’n langsame proses was, het ons wel vorentoe beweeg en ons glo dat ons iewers in die loop van die jaar die park wel amptelik weer in gebruik sal kan stel.”

Die grond waarop Victoriapark geleë is, is reeds in 1847 deur die inwoners van die dorp opsygesit as ’n oop ruimte wat deur besoekers benut kon word en waar hul trekdiere uitgespan kon word wanneer hulle die dorp besoek het. In 1883 is die naam Victoriaplein aan die stuk grond gegee en in 1897, toe koningin Victoria se jubileumfeesviering plaasgevind het, is die naam van die park verander na Victoria Jubileumpark. Die swaar gietysterhekke by die ingang is in 1909 opgerig om die bestaande omheining en hekke van die park te vervang.

Dit bly egter steeds onseker wanneer die park vir die publiek weer oop sal wees om met sy splinternuwe baadjie te spog.

Waarnemende munisipale bestuurder Jacques Carstens het gesê die opknappingswerk waarmee daar steeds besig is in Victoria Park die rede vir die sluiting van die park is. Dit sal dus gesluit bly totdat die opknappingswerk afgehandel is.

“Dit is ’n gemeenskapsprojek wat deur die ATKV, vrywilligers en die munisipaliteit gedryf word wat hulpbronne saam gespan het. Die vordering word vertraag vanweë die weer, beskikbaarheid van fondse of die nodige kundigheid vir werk wat gedoen moet word.

“Die beplande bouwerk sal in Februarie afgehandel word. Daar moet ook nog afrondingswerk voltooi word, insluitend die plant van ’n fyntuin in die Victoriaanse akker, randstene wat afgewerk moet word en dooie plante wat verwyder en vervang moet word. Die droogtetoestande beïnvloed ook die beplande opening van die park. Daar word tans beplan om aan die einde van Maart die park weer vir die publiek oop te stel.”

Hy het bygevoeg dat die park word op aansoek vir fotogeleenthede wel oopgemaak en gebruik aangesien die park baie gewild is vir die neem van troufoto’s.

* Victoria Jubilee Park in Wellington is still undergoing a revamp and will hopefully soon be open to the public.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.