Ten spyte van die feit dat een van sy drieë vandeesweek wêreldwyd opskudding veroorsaak het, is die Roses United-span steeds nie tevrede met sekere aspekte van sy spel nie.
Dié span het Saterdag vir Proteas van De Doorns maklik met 61-36 op Wellington verslaan.
Roses het daarmee sy plek in die halfeindstryd van die Boland se top12-kompetisie bespreek en kom nou 3 November teen Saldanha op die Bolandrugbystadion te staan.
Roses het met ’n vaart weggespring en was in ’n japtrap reeds met 14-0 voor. Sy skrumskakel, Percy Williams, het reeds in die tweede minuut agter die doellyn gaan kuier en daarna was daar geen keer aan die span nie.
’n Drie in die tweede helfte deur Tyrone Abelse het vroeër vandeesweek die rugbywêreld aan die gons gehad nadat beeldmateriaal daarvan op sosiale media versprei is. Dit is ook deur Facebook-gebruikers in die Verenigde Koninkryk, Nieu-Seeland en Amerika gesien. Kenners meen dié drie kan as die drie van die jaar beskou word en is gedruk van ’n skrum op Roses se kwartlyn. Williams het die bal na Jacquin Jansen gevoer wat op sy beurt ’n oorslaanaangee na Johnwen Lewis geslinger het. Die blitsige Lewis het teen die kantlyn afgenael voordat hy aansluiting by Ryan Julies aan sy binnekant gevind het. Julies het Thurlow Marsh met ’n skêraangee gevind voordat die Roses se kaptein vir Abelse aan sy binnekant in besit gestel het.
Die Boland-senter het weer vir Lewis gegee wat met blitsige hande die aanstormende slot, Oshlin Lewis, gevind het wat kort voor die doellyn platgetrek is, maar stééds met ’n verdediger op sy rug vir Abelse kon vind wat onder die pale afgerond het.
Volgens Brendon April, agterlynafrigter van Roses, was alles egter nie net maanskyn en rose nie.
“Ons is tevrede met die vertoning hoewel ons verdediging soms wankelrig was. Dit was die kommunikasiegapings eerder as verbroude duikslae wat ons verdedigingslinie ’n paar keer in die moeilikheid gehad het, maar ons sal dit voor die halfeindstryd regstel.” Puntemakers: Drieë deur Abelse (2), Damian Engledoe (2), Kelvin Fikster, Ashley Davids, Keenan Abrahams en Kennedy Rorwanna. Doelskoppe: Jansen (8).
In die ander halfeindstryd sê Wesbank en Worcester Villagers mekaar die stryd aan op 3 November op Boland-stadion.
* Die video van Roses United se prag drie kan op Paarl Post se facebook-blad gesien word.