Paarl en Wellington is deur die jare berug vir noodlottige botsings wat jaarliks talle lewens eis. En die meeste hiervan word deur spoed veroorsaak.

Dit word dus met skok verneem dat maatreëls wat van stapel gestuur is om wettelose spoedvrate hok te slaan nou ook by die venster uit is weens spoedkameras wat in die Drakenstein verwyder is.

Volgens inligting is verlede Woensdag­oggend op ’n raadsvergadering eenparig besluit dat die kontrak met die maat­skappy wat die spoedkameras in stand hou, verleng sal word.

Maar, glo kort hierna, het die munisipale bestuur opdrag gegee dat die kontrak nie meer verleng word nie en die kameras moet verwyder word.

Nou is kernpaaie, wat berug is vir hoë ongeluksyfers, sonder wetstoepassing.

Met die beëindiging van die kontrak beteken dit ook dat verkeersbeamptes nie meer gebruik het van die elektroniese toestelle wat verkeersboetes uitreik nie.

Hulle moet dus weer teruggaan na die ou handgeskrewe stelsel, wat ook kan beteken dat talle toekomstige boetes afgeskryf sal moet word.

Hierdie besluit belemmer nou ook die uiteindelike opening van die lang vertraagde munisipale hof, wat reeds sedert 2017 sukkel om op die been te kom.

Volgens ingeligtes kan dit nou maande duur voordat die hof open of dat enige wetstoepassing-stelsels op openbare paaie in werking gestel word weens burokratiese hoepels waardeur gespring moet word.

Gerard Esau, die munisipaliteit se direkteur van gemeenskapsdienste, het gesê die beëindiging van die kontrak word toegeskryf aan die nasionale implementering van Aarto, wat deur die Gautengse hooggeregshof uitgestel is en plaaslike verkrygingsprosesse nadelig beïnvloed.

Hy sê wel verkeerswetstoepassing, wat onder meer sigbare verkeerspolisiëring, verkeersbeheer, die hantering en beheer van ongelukstonele, verkeersregulering, betekening van dagvaardings en uitvoering van lasbriewe insluit, gaan steeds voort.

“Spoedbeheer as ’n enkele komponent van verkeerswetstoepassing word dus deel van die oorbruggingsperiode met die diensverskaffer om op ’n maand-tot-maand-grondslag spoedtoerusting te verskaf totdat die raad se verkrygingsprosesse afgehandel is.”

Verder het Esau gesê die opening van die munisipale hof is onderhewig aan prosesse wat deur die nasionale departement van justisie beheer word. “Die Drakenstein-munisipaliteit is administratief gereed vir die opening van die hof.”

Maar vroeër vanjaar het die munisipaliteit egter aangekondig dat die minister van justisie en korrektiewe dienste reeds die nodige finale goedkeuring vir die opening van die hof gegee het.

You need to be Logged In to leave a comment.