Hugenote Hoërskool se seuns- en meisiesbadkamers pronk met ’n splinternuwe baadjie danksy ’n ouerinisiatief. Die badkamers, wat al dekades lank ou wasbakke van vlekvrye staal het en probleme soos swak waterdruk gehad het, lyk nou soos iets wat ’n mens in ’n vyfsterhotel sal teëkom.
Nadat die ou wasbakke een van 2017 se gr. 8-ouers, Illet Theron, met ’n besoek aan die skool opgeval het, het sy besluit om ’n inisiatief van stapel te stuur om die badkamers op te knap. Sy het ’n hele groep ouers en kinders agter haar verenig en met planne vir die opknappingswerk begin.
Die skoolkinders kon hul voorstelle met idees en behoeftes ten opsigte van verbeterings aan die badkamers in bokse plaas. Hieruit het geblyk dat nuwe wasbakke hul grootste behoefte was. Voorbeelde en foto’s is versamel, voorstelle is aan die beheerliggaam voorgelê en geldinsameling vir die opknappingswerk is begin.
Die eerste stap in die proses was om die probleme ten opsigte van ou waterpype, watertoevoer en waterdruk die hoof te bied. Die boorgate op die skoolterrein moes getoets en goedgekeur word en die nodige watertenks en pompe moes geïnstalleer word. Die waterprobleem is uiteindelik op ’n suksesvolle, volhoubare manier opgelos.
Ouers het ook met die geldinsamelingsinisiatiewe gehelp, skenkings ten opsigte van die inisiatief gedoen en sommige het met finansiële raad bygestaan. Die groep het met sy “Rand-vir-iets”-geldinsameling ’n stewige bedrag vir die opknappingswerk bymekaargemaak.
Vandag pronk die badkamers met nuwe aaneenlopende granietoppervlakke wat die ou vlekvryestaalwasbakke vervang het.
Die badkamers het ook nuwe krane en teëls wat die vars, moderne voorkoms afrond.
Groot nuwe spieëls stel die meisies nou in staat om hulle van kop tot tone te bekyk en volbreedte spieëls is bo die wasbakke aangebring.
Die seunsbadkamer se stukkende spieëls is ook vervang.
Die kinders se reaksie op die splinternuwe badkamers was oorweldigend en almal is baie dankbaar vir die ongelooflike verbetering.
Een besoek van ’n ouer aan die meisiesbadkamer in 2017 het tot ’n innoverende idee, ongelooflike samewerking, ’n wonderlike inisiatief en uitstekende resultate gelei.
“Geld kan baie koop, maar dikwels is die gawe van ’n mens se tyd meer kosbaar. Ek hoop die jaargroep voel trots op wat hulle vir die skool gedoen het,” sê Illet.