Speler tuis ná mesaanval

’n Vriendelike rugbywedstryd tussen die Porterville- en Never Despair-rugbyklubs Saterdag (3 Junie) is op ’n onsmaaklike noot beëindig nadat die rugbyspeler Ruan Rass (27) glo met ’n mes gesteek is.


’n Vriendelike rugbywedstryd tussen die Porterville- en Never Despair-rugbyklubs Saterdag (3 Junie) is op ’n onsmaaklike noot beëindig nadat die rugbyspeler Ruan Rass (27) glo met ’n mes gesteek is.

Dié eerstespan-rugbyspeler van die Never Despair-rugbyklub is in die nek gesteek nadat die spelers ná rustyd pas na die veld teruggekeer het.

Lance Levendal, die voorsitter van Never Despair, sê die voorval was heeltemal onverwags en het uit die bloute gebeur. Hy vertel daar was geen onmin in die spanne of aanduidings voor die wedstryd dat só iets te verwagte sou kon wees nie.

Randall Swarts, voorsitter van die Porterville-rugbyklub, beaam Levendal se siening en sê ’n goeie gees het deur die dag tussen die spelers en toeskouers geheers.

“Never Despair het sy veiligheidsplan voor die wedstryd bekend gemaak en veiligheidswagte was by die hekke en langs die veld sigbaar. Dit was ’n geïsoleerde voorval – sonder ’n vermoede dat só iets sou gebeur,” sê hy.

“Ons het in die eerste helfte voorgeloop, lekker gespeel en gereed [gemaak] vir die tweede helfte. Ek het beweging op die veld gesien, maar nooit gedink dit sou só uitdraai nie,” vertel hy.

Volgens Levendal het hy die man agterna gesit, maar die man het weggekom.

Hoewel die span veiligheidsmaatreëls en veiligheid ingestel het, meen Levendal die velde en stadions waar hulle speel, maak dit soms moeilik.

“Ons maak gebruik van talle veiligheidswagte, maar daar is altyd ’n ingang of uitgang waar kwaaddoeners kan inglip.

“Die veiligheid van die spelers en toeskouers bly vir ons die belangrikste.”

Levendal sê die spelers is steeds geskok, maar hy glo hulle het nog ’n verantwoordelikheid teenoor die gemeenskap om rugby aan te bied. Hy beskou rugby as ’n manier om jongmanne uit die kwaad te hou en met positiewe aktiwiteite besig te hou.

Die wedstryd is ná die voorval beëindig.

’n Beradingsessie is Dinsdag (6 Junie) deur die Boland-rugbyunie aan die spelers en toeskouers gebied.

Kapt. Tania Helfrich, ’n woordvoerder van die Weskus-polisiedistrik, het bevestig ’n klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer ondersoek word.

“Die slagoffer is na ’n plaaslike hospitaal vervoer en later na die Tygerberg-hospitaal oorgeplaas. Niemand is in hegtenis geneem nie.”

Levendal het teen druktyd bevestig Rass is intussen uit die hospitaal ontslaan en sterk tuis aan. Die motief vir die voorval is steeds onbekend.

Intussen het Mark Alexander, die president van die Suid-Afrikaanse rugby-unie (Saru), aanvalle op skeidsregters en wedstrydbeamptes ten sterkste veroordeel ná voorvalle waarin wedstrydbeamptes in die Oos-Kaap aangerand is.

Alexander sê ook hy sal aan al 15 vakbondlede van Saru skryf en hul tugkomitees versoek om die sterkste stappe moontlik te doen teen individue en klubs onder hul gesag, wat wedstrydbeamptes fisiek of verbaal mishandel of nie daarin slaag om beamptes voldoende te beskerm nie.

“Ons moet ons wedstrydbeamptes beskerm. Sonder hulle sou daar geen sport wees nie. Die boodskap moet in die sterkste taal moontlik uitgaan dat sulke optrede nie geduld sal word nie. Aanvalle op skeidsregters is skaars, maar wanneer dit voorkom, moet provinsies nie huiwer om op te tree nie,” sê Alexander.

You need to be Logged In to leave a comment.