SUPERSPAR in Paarl-Oos het onlangs sy deure vir die dag se handel met ’n nuwe, helder binneruim en kraakvars aanbod heropen. Die winkel, wat in 2008 sy deure vir die Paarl-Oos-gemeenskap geopen het, het sestien jaar later ’n groot opknapping ondergaan. Die winkel is oorspronklik deur Cornelius en Mariana Bakkes geopen, wat ’n ruk gelede die leisels aan hul seun Hein oorhandig het. Hein het sy ouers by die heropeningsgeleentheid bedank vir die geleenthede wat hulle vir hom, sy broer en hul gesinne geskep het. Hy het ook die personeel bedank, wat volgens hom ’n sleutelrol in die winkel se handelsgeskiedenis vervul het. Drie personeellede – Berenice Williams, Jesse Phillips en Moemiena Ebrahim – is daar sedert die winkel die eerste keer geopen het. Baie ander personeellede is al langer as 10 jaar by dié onderneming betrokke. Tydens die lintknipseremonie by die heropening was dit duidelik dat dit ’n gesinsaak is. Die derde geslag het gepas na vore getree om die lint by die opening te knip. ’n Nuut-getransformeerde winkel met ’n verbeterde inkopie-ervaring wag op die gemeenskap. Foto: