Bedryfsbestuurders van die klinieke en gemeenskapsdagsentrums (“daghospitale”) in die Drakenstein is vereer vir hul rol om te verseker dat dienste gefokus bly op pasiënte sowel as die verbetering van stelsels.


Die Wes-Kaapse regeringsgesondheid in die Drakenstein het op 26 Augustus spesiale gaste by TC Newman CDC vereer – spanne en vennote wat gesondheidsdienste volhou, verbeter en na die beste pasiëntesorg streef.

Die tafel het gekreun onder trofeë en eerbewyse wat spanne ontvang het nadat baie spesifieke kriteria vir die verskillende afdelings waarvoor pryse uitgedeel is, in ag geneem is. Dit is die tiende jaar dat erkenning op hierdie manier gegee word aan spanne van klinieke, gemeenskapsdagsentrums, mobiele klinieke en nie-regeringsorganisasies vir hul bydraes om dienste aan soveel mense moontlik beskikbaar te stel.

“Wat ’n reis was hierdie tien jaar nie,” het Sandra Theron, die departement se bestuurder van die Drakenstein-subdistrik, gesê.

“Die erkenning gaan aan spanne en nie individue nie. As ’n span het ons gedeelde verantwoordelikheid. Ons moet rekenskap gee van doelwitte wat bereik is, of nie. Ons het saamgestaan en daarom kon ons doelwitte bereik.”

Van die eerbewyse wat oorhandig is vir uitnemendheid in 31 van die departement se fokusareas, sluit in fasiliteite en mobielekliniekspanne wat die beste gevaar het met doelwitte om ondersteuning te gee aan babas in die eerste duisend dae van lewe; die beste handhawing van maatreëls om pasiënte en personeel se veiligheid te verseker; die beste vordering met die najaag van doelwitte wat gestel is om MIV/vigs, TB en seksueel oordraagbare infeksies te bekamp; die beste vordering met die “Ideal Clinic”-program en opvolgwerk om pasiënte met kroniese toestande te ondersteun.

Die departement se direkteur van die Kaapse Wynland Distrik het bygevoeg tendense het verander. Voorheen is almal aangemoedig om as individu te presteer, maar in die breë samelewing is die fokus deesdae op hoe jy as deel van ’n span sukses kan behaal.

Handri Liebenberg het gesondheidswerkers en vennote erkenning gegee dat hulle ’n sterk span is en gevra hulle moet aanhou om dit te doen deur ander se behoeftes in nederigheid voor hul eie te stel, honger te bly daarvoor om ’n sterk werksetiek te handhaaf, en altyd die beste in ander na vore te bring.

You need to be Logged In to leave a comment.