Tyd kruip nader soos ’n dief in die nag en bekruip jou suutjies sonder dat jy daarvan bewus is.
Soos ’n spook bespring dit jou en, weens vrees, slaan dit jou asem weg omdat jy nie eens geweet het jy word agtervolg nie.
Tyd vlieg verby, en voordat jy jou oë kan knip, is nog ’n sekonde, dag, jaar (of vyf) skoonveld.
Dit is dán wanneer jy besef (dikwels te laat) die lewe is vlugtig.
“Ek wil ’n baksteen op jou kop sit,” sê ouers vir hul babbelbekkies –sodat hulle vir ewig klein kan bly.
“Toe ek jonk was,” sê ander, wat verlang na hul jonger, sorgvrye dae, en gehoop het hulle kon die horlosie terugdraai.
Maar, die tyd het aangestap, en in ’n oogwink was als verby.
Drome, doelwitte, planne, is – as jy gelukkig is – bewaarheid, maar meer dikwels is dit bloot wense wat soos stof weggewaai en jou stuk-stuk herinner het wat verlore is met die deeltjies wat agterbly.
Tyd kruip nader soos ’n dief in die nag, en bekruip jou suutjies sonder dat jy daarvan bewus is.
Dit ruk die mat onder jou voete uit en herinner jou dat jy niks het sonder tyd aan jou sy nie.
Die grootste manier hoe jou tyd op dié aarde gesteel kan word, is ook, onder meer, met doktersbesoeke, hospitaalrekenings en naalde wat jou elke nou en dan prikkel.
Kanker, die ánder “k-woord” wat jou kop na agter laat ruk, en dikwels ook laat wonder, “het ek reg gehoor?” is nog ’n euwel wat sonder twyfel tyd opraap.
Dit is soms moeilik om positief te bly wanneer dié euwel by iemand gediagnoseer word, omdat jy weet hul tyd raak al hoe minder.
Volgens navorsing wat gereeld in die nuus verskyn, soos in ’n onlangse persverklaring deur die Wêreldgesondheidsorganisasie gesien kan word, is kanker aan die toeneem.
’n Skaars kanker wat by ’n familielid gediagnoseer is, het ons familie soos ’n dief in die nag bekruip en die mat onder ons voete uitgeruk.
Nie net is dit ’n diagnose wat tyd laat stilstaan nie, maar ’n mens ook laat wonder– hoeveel tyd is oor?
Kanker is ’n siekte wat moeilik van die tong af rol – amper asof dit iets eksoties is wat nie hier binne jou huisgesin hoort nie.
Dadelik besef ’n mens die uurglas loop leeg — vinniger as beplan — en jy moet die tyd wat jy oor het, koester.
Die mens wat jy gedink het vir ewig sou leef en daar sou wees deur die lewe se opdraande, staar nou sélf ’n opdraand in die gesig.
Tree vir tree help ons hulle om dié hindernis te oorkom sodat hulle uiteindelik bo-op die berg kan staan as ’n oorwinnaar met meer tyd as die beloning.
Dit is egter een tree vorentoe, en namate die moegheid inskop, twee tree terug.
Sonder hoop is daar ook niks, dus klim jy maar verder.
Nou is vrede gemaak dat die kanker jou tyd saam met jou familielid sal verminder, maar dan wonder jy met hoeveel en hoop op ’n wonderwerk.
Die dokter sê ’n mens koop vyf jaar voordat die kanker weer terugkom. Ja “koop,” want dié siekte kos jou ook ’n plaas se geld.
Dan hoop jy maar verder dat die vyf jaar strek tot 10, en as die kanker weer sy verskyning maak, dit behandelbaar is.
Dit alles laat jou besef tyd is soos ’n dief wat soms jou geluk steel, al smeek jy vir ’n ander uitkoms.
Nie net verkort dié dief jou lewe nie, maar die gehalte van lewe wat saam met jou familie oor is, is ook in die gedrang.
Gedagtes dwaal in jou kop oor hoe jy die tyd wat oor is, kan verleng – nie net vir jou eie gewin nie, maar ook dié vir die res wat saam met jou swaar trek.
Plooie op die voorkop wat voorheen net sigbaar was in ’n frons is nou permanent op jou familielede se gesigte getatoeëer.
Grappe wat almal laat skaterlag het, is nou opgedroog, en al wat oor is, is ’n doodse stilte.
Selfs die huisdiere drom om jou saam, want hulle kan voel iets is fout.
Elke dag se roetine bestaan uit pille, inspuitings en daardie deurskynende sakkie chemo wat ’n mens ook so siek maak dat jy die dae om bid na die volgende doktersafspraak en hoop op goeie nuus.
Daar gekom, bly die diagnose onveranderd, en jou moed sak in jou skoene omdat jy besef tyd is min.