Egte skaap-sosaties bly vir my baie na aan die hart – egte erfeniskos wat my baie trots laat voel oor die geure en kleure van ons land.
Maar daar is sosaties en daar is sosaties.
Ek stry ’n permanente stryd met diegene wat sogenaamde “sosaties” in winkels koop.
Dit is eenvoudig net nie die ware Jakob nie. Hierdie vakuumverpakte vyande word meestal gemaak van minderwaardige vleis of selfs vleis wat dikwels verby sy verkoopdatum is, wat dan met allerlei kommersiële, plastiekagtige souse bedruip is.
Eerstens word tradisionele sosaties van skaapvleis gemaak. Tweedens word ’n behoorlike kerriesous gemaak – niks uit ’n bottel nie.
En ek sal so ver gaan om te sê dat geen volwaardige braaier homself so kan noem as hy nog nie self hierdie “koning” van die braai gemaak het nie.
Dit is heel eenvoudig om te maak, maar maak jou sosaties ’n paar dae voordat jy wil braai – hulle raak met tyd net lekkerder.
Maak eers jou kerrie-bedruipsous (hierdie resep is vir ’n heel lamsboud).. Braai ’n groot ui wat in fyn ringe opgesny is met so twee opgekapte knoffelhuisies. . Voeg dan twee eetlepels kerriepoeier by na smaak, ’n eetlepel borrie, ’n koppie asyn, ’n halfkoppie water, sout en peper na smaak en drie eetlepels appelkooskonfyt. . Gaan pluk sommer ’n handjie vol suurlemoenblare, kneus en voeg by.. Daar moet ’n goeie balans tussen soet en suur wees, en as die een die ander oorheers, gooi óf ’n bietjie suiker óf ’n bietjie asyn by totdat die smaak vir jou reg is. . As jy nog meer byt wil hê, kan ’n bietjie rissie bygevoeg word, maar onthou, kinders is mal oor sosaties, so, as hulle gaan saam eet, neem hulle in ag.. As die sous afgekoel het, voeg vier eetlepels gewone jogurt by. Proe nou vir oulaas of jou balans van geure reg is.. Sny nou ’n ontbeende lamsboud in blokkies op en gooi die afgekoelde marinade daaroor en meng ’n pakkie gedroogde appelkosies in. . As jou cholesterolvlakke dit toelaat, sny repe varkspek in blokkies en voeg dit by die vleismengsel. Stukkies ui is ook lekker tussenin. Laat alles goed marineer – hoe langer hoe beter.. Ryg dan op sosatiestokkies wat vir minstens ’n halfuur in koue water geweek is. . Met die braaislag moet die sosaties oor matige kole gebraai word en maak asseblief tog seker dat dit nie brand nie.
Smeer die sosaties kort-kort met die orige marinade.
Hierna moet jy jouself met ’n sweep slaan as jy dit durf waag om die klaargemaakte twak weer te koop.