Rameeq van Niekerk van RG Sopkombuis staan by sy woning in Klapmuts agter een van drie potte sop wat hy weekliks aan meer as 300 Klapmuts-inwoners uitdeel.Foto: Jana Scheepers


Rameeq van Niekerk en sy vrou, Gail, is geliefde inwoners van Klapmuts en baie betrokke in hul gemeenskap deur een maal per week meer as 300 honger monde te voed met hul sopkombuis, wat van hul huis af bestuur word.

Vanjaar is die 10de bestaansjaar van RG Sopkombuis, wat ten volle deur die Klapmuts-gemeenskap ondersteun word en jaar vir jaar groei – ’n bittersoet feit wat daarop dui dat armoede in die gemeenskap aan die toeneem is, maar dat barmhartige samaritane, soos die Van Niekerk’s, hulle oor die mense van Klapmuts ontferm.

“Ons het die nood in Klapmuts gesien,” het Rameeq gesê, en verduidelik dat hy en sy vrou as gevolg hiervan besluit het om terug te ploeg in die gemeenskap deur die nood na kos die hoof te bied.

Die sopkombuis word moontlik gemaak deur skenkings – geldelik sowel as kruideniersware – om die sop voor te berei, sê Rameeq.

Die drie grootste rolspelers in dié skenkings is van die ouers van Green School South Africa se leerders, Gift of the Givers asook Hajji Regal, Rameeq se vriend wat in die Verenigde Arabiese Emirate woon en geldelike skenkings stuur.

Rameeq het verduidelik dat hy Gift of the Giversin 2020 vir hulp gedurende die Covid-19-pandemie gekontak het.



“Ek het kontak gemaak met Ali Sabley en Sheihk Ikhram [van Gift of the Givers] en hulle het ’n paar keer self my huis [in Klapmuts] kom besoek om kruideniersware af te lewer,” het Rameeq verduidelik.

Hierdie skenkings word tans maandeliks gedoen, wat ’n groot voorreg is, sê Rameeq.

Rameeq en Gail het in 2010 ’n paar lede van die Klapmuts-gemeenskap met “net een 70-liter-pot gevoed,” maar beskik tans oor meer as drie keer soveel, wat beteken dat die Van Niekerk’s elke week een hele dag voor die kospotte deurbring om hul honger gemeenskap te voer.

You need to be Logged In to leave a comment.