Af en toe, in die middel van die nag, sal jy dalk ’n jongman met ’n swart pet op sy kop in een van Wellington se strate sien afstap. Enkele oomblikke later sal jy tot jou verbasing dieselfde jongman ver daarvandaan in heeltemal ’n ander straat teëkom.
As dié verskynsel jou kop deurmekaar krap, dink net wat alles deur ’n potensiële inbreker se kop hardloop as hy dieselfde mens met dieselfde swart pet op sy kop in ’n verlate straat sien stap net om hom, enkele minute later, ver daarvandaan in ’n ander verlate straat te sien stap.
Die jong tweelingbroers, Carl en Charl Lotze, word deesdae deur almal wat te doen het met die bekamping van misdaad in Wellington, beskou as een van die dorp se kragtigste wapens in die stryd teen misdaad op die dorp.
Misdaadbekamping word deur die twee beskou as ’n natuurlike uitvloeisel van alles waarin albei intens belangstel. Hulle het reeds in hul skooljare saam-saam die gawe ontdek om maniere te ontwikkel om misdaad in hul dorp te beveg.
“Ons het agtergekom dat iemand wat ’n plek soek om by in te breek of om iets onwettig te bekom, anders stap en anders om hom rondkyk as iemand wat bloot in die straat afstap. Deur so ’n persoon stilletjies te volg, het ons selfs in ons skooljare dikwels daarin geslaag om misdaad betyds te keer,” vertel Charl Lotze.
“Ná skool het ons spontaan en op ons eie die buurt waarin ons grootgeword het, se strate snags begin patrolleer. Die patrolliewerk het gelei tot die stigting van Wellington se eerste buurtwag. Die dorp se buurtwagstelsel het sedertien baie veranderinge ondergaan en deesdae is ons lede van die organisasie WAG-Stop Misdaad wat deur wyle oom Attie Barnard ontwikkel is en tans van krag tot krag groei.”
Volgens die lede van WAG-Stop Misdaad is misdadigers lugtiger vir die jongmanne in hul swart gewade as vir die Wellingtonse polisie. Die woonbuurt waarin hulle aanvanklik met hul patrolliewerk begin het, is op die oomblik die woonbuurt waarin misdaad die minste in die dorp voorkom. Hulle is deesdae ook deel van ’n misdaadbekampingsgroep waarvan elke lid direkte toegang tot vier kontrolekamers op die dorp het. Hulle weet dus onmiddellik as ’n misdaad aangemeld word.
Die twee het in die jongste tyd hul patrolliewerk begin uitbrei na ander dele van die dorp en word voortdurend bygestaan deur die polisie, WAG-Stop Misdaad en groot veiligheidsmaatskappye.
“Dit maak dit veel makliker om byvoorbeeld ook die strate rondom die dorp se twee gewilde drinkplekke te patrolleer. As die manne laataand lekker begin kuier en met hul vol glase in die strate rondom die kroeë staan en drink, steur hulle hulle nie juis aan twee snuiters wat vir hulle sê hulle mag nie op straat drink nie.
“Nou skakel ons een van hierdie organisasies en hulle stuur onmiddellik iemand uit om die drinkers te oortuig om in die kroeg te gaan drink of anders . . . !”
Een van die snaakse ondervindinge wat hulle beleef het, was toe ’n bejaarde dame hulle een dag bel en sê daar sit iemand in ’n briewebus voor haar huis. Die briewebus is een van die groot rooi busse wat lank gelede op sommige straathoeke geplaas is.
Die dame het glo ou koerante in die bus, wat nie meer gebruik word nie, gedruk. Sy het agtergekom daar is ’n beweging in die briewebus. Toe die tweeling op die toneel kom, het een van hulle by die gleufie waar jy die briewe instoot, geloer en iets soos ’n mens in die bus gewaar.
Hulle het die deur aan die agterkant ondersoek en ontdek dat dit nie gesluit is nie. Toe hulle die deur ooppluk, het daar wel iemand in die posbus gesit!
Agterna het dit geblyk dat die persoon ontdek het dat die deurtjie oopgebeur kan word. Daarna het hy elke dag in die bus gaan sit om die omgewing te bespied om te sien waar dit veilig sal wees om te gaan inbreek.