Sunfield Home het sy deure in 1991 in Wellington geopen met slegs sewe inwoners. Vandag is daar sowat 120 inwoners.
Sunfield het ontstaan nadat die ouerpaar Chris en Lynne Bennett vir hul dogter, wat Down se sindroom het, ’n plek gesoek het waar sy en ander gestremde mense gestimuleer kan word en kan woon.
Hulle en ander ouers het Sunfield Home aan die voet van die Hawequa-berge in Wellington gestig.
Sunfield Home bied voltydse inwoongeriewe en ’n beskermde werkplek aan sy inwoners. Die tehuis het oor die jare aansienlik uitgebrei en bied deesdae verskeie aktiwiteite aan die inwoners.
Gerine de Wet, die bemarker by Sunfield, verduidelik dat elke inwoner geassesseer word om te bepaal wat hul sterk punte is om hulle sodoende by aktiwiteite in te skakel wat hulle kan baasraak en geniet.
Van die aktiwiteite behels kunsklasse wat deur ’n vrywilliger aangebied word. Die vrywilliger werk van die begin van die jaar af met ses inwoners in ’n groep sodat sy individuele aandag aan hulle kan skenk en hulle aan verskeie vorms van kunswerke bekend kan stel. Die kunswerke word dan afgerond en sal aan die einde van die jaar uitgestal word. Van die handgemaakte artikels word aan kleuters by Ma’s-vi-Wellington uitgedeel.
Inwoners van Sunfield kry ook sekere tye van die dag die geleentheid om opvoedkundige rekenaarspeletjies te speel. Sensoriese aktiwiteite word ook aangebied vir inwoners wat dit moeilik vind om aan ander aktiwiteite deel te neem. Inwoners kan ook hul eie aktiwiteite doen, soos matknoop, tolletjiebrei vir matjies of kruisiesteek op lap en krale en armbande maak.
Met die hulp van werkwinkelpersoneel doen die inwoners ook découpage en maak hulle verskeie artikels.
Buiten hul daaglikse werksessies help van die inwoners ook met kontrakwerk wat aan Sunfield toegeken is.
De Wet verduidelik dat die kontrakwerk ’n belangrike rol by Sunfield speel. Dit hou nie slegs die inwoners besig nie, maar help ook dat hulle weekliks geld verdien vir die werk wat daardie week gedoen is.
“Ons kontrakte sluit in werk vir wynplase, kaasproduseerders en die Christelike Lektuurfonds (CLF),” verduidelik De Wet.
Onder leiding van Handré Bester bak inwoners ook ’n verskeidenheid beskuit en koekies.
“Dit verkoop baie goed en die kombuis kan nie voorbly met voorraad nie,” vertel De Wet.
Van die produkte sluit in heerlike sjokoladebrownies, crunchies, griekse brosbeskuit en dadelballetjies. Die kombuis het ook onlangs pasteie begin bak. Bestellings vir beskuit, koekies en pasteie kan by Bester geplaas word deur e-pos te stuur na kombuis@sunfieldhome.co.za of hom te bel by 021 873 5038.
’n Kafeteria is ook begin en die publiek kan nou ook wegneemetes bestel en ouers wat hul kinders besoek, kan iets te ete koop.
Volgens De Wet is van die uitdagings waarvoor hulle te staan kom om daagliks in al die unieke en verskillende behoeftes van hul klante te voorsien.
“Inwoners verloor familielede hoe ouer hulle raak. ’n Groot leemte ontstaan dan en om daardie leemte te vul, benodig ons vrywilligers om individuele aandag te gee,” verduidelik De Wet.
Sunfield se droom is om ’n verswaktesorgeenheid te bou sodat hulle inwoners wat daardie soort sorg nodig het, kan huisves. “Verder sal ons graag self verskeie terapeutiese dienste wil aanbied, soos sielkundige hulp, arbeidsterapie, fisioterapie asook pastorale begeleiding/berading,” het De Wet gesê.
Op loslitdag Vrydag 6 September verkoop Sunfield Home Loslitdag-plakkers. Mense wat plakkers wil koop, kan De Wet by 021 007 0034 bel of e-pos na garine@sunfieldhome.co.za stuur.. ’n Spinklas word Saterdag 31 Augustus van 09:00 tot 11:00 deur Virgin Active Paarl ter bewusmaking van Loslitdag aangebied. Kontak Garine vir nog inligting. . Inwoners sal Dinsdag 3 September ’n “shadow shift” by Pasedena Spur, Lady Greystraat, Paarl van 18:00 tot 21:00 doen. Sunfield sal ’n persentasie van die verkope kry en hulle vra die publiek se ondersteuning.