Musiekliefhebbers kan uitsien na ‘n onvergeetlike Sondagmiddag-piekniek en -konsert hierdie naweek by die Kronenburg-landgoed net buite die Paarl, waar onder andere die gewilde Sunset Sweatshop vermaak ten bate van die Boland Skool vir Outisme sal verskaf.

Dié spesiale konsert, op Sondag 26 Oktober, is die inisiatief van Liezel van Niekerk, ‘n ouer van ‘n negejarige seun met outisme, wat graag iets betekenisvols vir die skool wou doen. Volgens haar het sy voorheen reeds twee danse as geldinsamelingsprojekte vir die skool gereël en vanjaar besluit om iets anders aan te pak.

“Die Boland Skool vir Outisme is ‘n geregistreerde organisasie sonder winsoogmerk, wat ten volle afhanklik is van skenkings en geldinsamelings om kinders op die outisme-spektrum die ondersteuning en hulpmiddels te bied wat hulle nodig het,” verduidelik sy.

Die konsert beloof om nie net harte te roer nie, maar ook voete te laat dans.

Klawer, Johan Roos en die top-9-finaliste van die Global Spotlight Talent Search sal ook optree. Sommige van die kunstenaars het onderneem om ‘n deel van hul inkomste aan die skool te skenk, terwyl ander hul hele fooi as bydrae aanbied – ‘n bewys van hul steun aan dié saak. Die seremoniemeester is Success Lekabe van SmileFM. Die konsert begin om 12:00; hekke maak reeds 11:00 oop.

Kaartjies kos R250 en kan by www.quicket.co.za gekoop word.

Besoekers kan hul eie piekniekmandjies pak en die middag kom geniet, met drankies wat op die perseel te koop is.

You need to be Logged In to leave a comment.