’n Staatsbegrafnis het Saterdag in die Paarl plaasgevind vir ’n lid van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), wat drie weke gelede in ’n motorongeluk gesterf het.
Aubrey Erasmus (58) was een van vyf lede van die SANW wat hul lewe verloor het toe die bestuurder van ’n voertuig, waarin hulle Saterdag 17 September in Mpumalanga gery het, beheer verloor het nadat ’n voorband blykbaar gebars het. Die voertuig het ’n boom getref.
Die oorledenes was deel van 9SAI (Suid-Afrikaanse Infanteriebataljon) wat onder Operasie Corona (grensbewaking) in Mpumalanga ontplooi was. Hulle was van Zonstral na die Macadamia- operasionele basis langs die Coopersdal-pad onderweg toe die ongeluk gebeur het.
Aubrey, wat al die jare by die weermag in Kaapstad gestasioneer was, was sedert Maart vanjaar in Mpumalanga om opleiding aan te bied.
Hy was een van agt kinders wat in Amstelhof grootgeword het en was in Paulus Joubert Sekondêr.
Een van sy ses susters, Esmarelda Gilfillian, het gesê toe haar broer in graad 10 was, het hy eendag verdwyn.
“Hy is die oggend oudergewoonte in sy skoolklere uit die huis om skool toe te gaan, maar het middag se kant nooit by die huis uitgekom nie.
“Ons ma, wat bekend was vir haar kwaai houding, was briesend. Hy het eers laat die aand daar aangekom – asvaal, want hy het geweet my ma gaan die josie in wees.
“En toe vertel hy ewe aan ons hy en ’n vriend is met die trein Kaap toe – na die hoofkwartier van die Kaapse Korps – en hy gaan weermag toe.”
Aubrey het sy weermagloopbaan in 1984 op 18-jarige ouderdom begin.
Volgens Esmerelda was hy uit die staanspoor die toonbeeld van ’n soldaat – hardwerkend, gretig om te leer, en soos enige goeie soldaat uiters netjies.
“Tot sy dood het nie eens sy vrou ooit sy klere gestryk of sy skoene ge-polish nie. Hy het daarop aangedring dat net hy dit kan doen soos hy dit wil hê. Hierdie houding van hom was ook tipies van ons ma.”
Verder sê Esmerelda haar broer was baie lief vir sy familie en het nooit sy rang “rondgegooi” nie.
Aubrey het vinnig deur die range in die weermag geklim, vanaf korporaal as jongeling, en ten tyde van sy dood was hy ’n streek-sersantmajoor.
“Selfs met sy dood het vriende na my toe gekom en gesê hulle het nooit geweet hy het so ’n senior posisie in die weermag beklee nie.”
Aubrey sou einde van September terugkeer huis toe en dan in Januarie 2023 sy weermagstewels opgehang het, maar die noodlot het getref.
“Hy wou baie graag met sy aftrede ’n bietjie rus en weer by rugby betrokke raak. Hy het destyds nasionale weermagkleure in rugby gehad. Ons is Albions-mense, en hy wou weer by die klub betrokke raak,” sê Esmerelda.
“Sy eerste liefde was egter die weermag en hy het letterlik met sy stewels aan sy voete gesterf.”
Aubrey se seun, Emile, het presies 33 jaar na hy by die weermag aangesluit het, ook by die weermag aangesluit.
Aubrey word oorleef deur sy vrou, Cheryl, vier kinders, sy pa, Johnny Erasmus, en sy ses susters.
• A state funeral was held in Paarl for a senior army official who died while on duty in a car crash in Mpumalanga.





