Die amptelike aftelling na Fifa se Wêreldbeker-sokkertoernooi (WB) vanjaar het begin met die wêreld se grootste sporttoernooi wat binne minder as twee maande in Katar afskop.
Paarl se bekende radio-omroeper, Lynden Jafta van PaarlFM, het onlangs eerstehands gaan kyk hoe dit in die gasheerstad Doha lyk.
Lynden was bevoorreg om deur Fifa self uitgenooi te word vir hierdie eens- in-’n-leeftyd-ervaring, soos hy dit beskryf.
Doha, die hoofstad van Katar, vertel Lynden, is iets om te beleef.
Die stad en sy woonbuurt-stede rys van niks op uit die woestyn en pronk dan soos pêrels in die ongenaakbare hitte.
“Reeds met die intrapslag by Hamad Internasionale Lughawe voel ’n mens al die Wêreldbeker-koors.
“Oral is herinnerings hieraan – plakkate, baniere, geboue wat geheel en al getooi is in die Wêreldbeker-embleem en dies meer,” vertel Lynden.
En hier in Doha en sy buurstede is daar geen doekies omgedraai, of dollars nie, om te verseker dat hierdie woestyn-stad kan spog met wat beloof die beste Wêreldbeker ooit te wees.
Met die afskop van die WB tussen Katar en Ecuador sal Katar sewe stadions gebou het, ’n nuwe lughawe, ’n nuwe metrostelsel, ’n reeks nuwe paaie en sowat 100 nuwe hotelle, als ter waarde van etlike miljarde dollar.
’n Hele nuwe stad word rondom die stadion gebou wat die laaste wedstryd sal akkommodeer.
Tans is daar reeds meer as 2,5 miljoen kaartjies vir die toernooi verkoop uit ’n totaal van 3 miljoen.
Twaalf jaar nadat die regte toegeken is om die toernooi aan te bied, het die piepklein Golfstaat Katar reeds aan die bou geraak in ’n reuse-konstruksiepoging met ’n uitmergelende tydlyn om te verseker ondersteuners van oor die wêreld heen kan die vier weke lange skouspel bywoon.
Dit is ook die eerste keer dat ’n WB-toernooi in die Midde-Ooste gehou word.
Lynden sê Fifa het hom bederf met talle toere van die sokkerstadions asook Fifa se hoofkantoor in die stad.
“Die Lusail-stadion waar die opening en eindstryd van die toernooi gaan plaasvind, is asemrowend en het plek vir 80 000 toeskouers.
“Een van die stadions, wat ook uitmekaar gehaal gaan word ná die WB, is langs die hawe geleë en is volkome uit skeepshouers gebou.
“ ’n Ander stadion is ontwerp om die tradisionele Bedoeïen-tente voor te stel en is ook volkome in rooi getooi, en Al Janoub-stadion is soos ’n pêrel gevorm.”
Lynden sê dit was ’n wonderlike ervaring om te sien hoe alles werk en hoe ongelooflik skoon die stad is.
“Die strate is silwerskoon, als is eksieperfeksie en werk soos klokslag. Die mense is ook baie vriendelik en hulpvaardig.”
Lynden waarsku net potensiële besoekers om eerbiedig te wees aan die land se geloof en kultuur en om daarvolgens aan te trek. Ten spyte van dagtemperature wat soms 50 °C haal, moet vroue langbroeke of rompe dra en nie ’n skouer wys of enigsins gewaagd geklee wees nie.
Mans kan soms wegkom met ’n kortbroek, maar baie instansies mag jou wegwys as jy in ’n kortbroek geklee is.
Buiten die WB-besienswaardighede sê Lynden dis ’n móét om die pragtige Ad Bida-park, Souq Waqif- kulturele mark, die Katar Nasionale Museum en dan ook die stadsligte in die nag te ervaar. . Die Fifa WB 2022 skop af op Sondag 20 November en die eindstryd word op 18 Desember gespeel.. PaarlFM’s Lynden Jafta tells of his whirlwind visit to the Fifa Soccer World Cup host city of Doha and its spectacular sites.