’n Geliefde oudonderwyser van die Hoër Meisieskool Paarl (HMS) is onlangs ná ’n lang siekte dood.
Adelaide Vogt was vir byna 30 jaar ’n geliefde graadeenonderwyser by HMS en langer as 50 jaar ’n laerskoolonderwyseres, wat ook in spesialebehoefte-onderwys gespesialiseer het.
Sy het beslis aanklank gevind by jonger kinders, en ouers het letterlik tougestaan om hul jongspan by Adelaide se klasse te probeer inskryf.
Haar dogter Eugenie vertel ook as kinders self onthou hulle dat net ’n eenvoudige kruideniersware-inkopie- uitstappie altyd drie keer so lank geneem het as wat nodig was, want sy sou ouers raakloop wat met haar sou wou gesels en skoolkinders het met groot glimlagte na haar toe gehardloop het, “asof hulle met ’n rockster praat”.
Sy het haar werk baie ernstig opgeneem en was ’n baie hardwerkende mens wat tot dikwels ná middernag gewerk het om antwoordstelle na te sien en haar lesse voor te berei, asook gedurende skoolvakansies en naweke.
Sy het altyd aan nuwe en vernuwende idees gedink om haar leerders te ondersteun en het die lewe van baie duisende kinders gedurende haar dekades van onderrig aangeraak.
Sy was ook vir baie jare ’n ywerige muurbalspeler en het net twee maande voor haar dood nog op haar Harley Davidson-motorfiets gery.
Adelaide sal ook onthou word as ’n baie kleurvolle, uitgesproke, joviale mens wat helder kleure en groot oorbelle gedra het en gewoonlik kon jy ’n geklingel hoor van iets wat sy aangehad het voordat jy haar kon sien.
Sy was ook baie lief vir reis en het onder meer deur Europa, Turkye, Nieu Seeland en Thailand getoer.
Ná baie jare van onderwys gee in Suid-Afrika het sy in die buiteland gaan werk.
Sy was ook ’n vurige diereliefhebber, vertel Eugenie, en die familie het pal troetel-eekhorings, hase, honde en katte in die huis gehad, en in ’n stadium selfs ’n vark.
Haar geliefde African Grey-papegaai het oral saam met haar gegaan.
Haar gedenkdiens is Saterdag 18 Mei om 14:00 in HMS se skoolsaal.
Adelaide word oorleef deur haar man, Charles, hul twee dogters Elzabe en Eugenie, hul seun, Marcel, en ook vier kleinkinders.