Wynand (Elizna se seun wat ook by Vee’s Video werk) en Elize Swanepoel.Foto: Jana Scheepers


Die vooruitgang van tegnologie het talle sakeondernemings gedwing om hul deure te sluit, en een voorbeeld hiervan is die DVD-bedryf.

Onthou jy hoe jy 10 jaar terug die nuutste DVD’s vir jou of jou gesin kon huur vir R20 en dit die volgende dag terugbesorg? Of hoe jou opgewonde kinders en hul maats met lekkers in die hand die naaste Vee’s Video of Stax binnegestroom het op soek na die nuutste kinderprent?

Deesdae is dié verskynsel ’n vae herinnering aan ’n tyd waarin Netflix, Showmax of Disney+ nie bestaan het nie.

Nietemin vier Vee’s Video in die Paarl vanjaar sy 43ste bestaansjaar en is dit die enigste oorblywende Bolandse DVD-winkel binne ’n 500 km-radius.

Só het Elize Swanepoel, die bestuurder van Vee’s Video in die Paarl, met Paarl Post se besoek aan dié winkel gesê.

Swanepoel werk reeds 40 jaar by die DVD-winkel en het verduidelik dat dit deur die jare namate die tegnologie verander het, net eenvoudig móés aanpas om aan die lewe te bly.

Volgens haar word die winkel steeds besit deur ’n familie van die Paarl, wat die winkel oorspronklik in 1980 oopgemaak en destyds video’s en later DVD’s verkoop het.

“Dit is baie moeilik [om die winkel oop te hou], maar mense kom steeds in en huur of koop DVD’s.”

Nóg ’n manier waarop die winkel staande bly, is om tuisgebak, wat Swanepoel maak, te verkoop, waarna ’n persentasie na die winkel gaan, en ’n persentasie na haarself. Haar gebak sluit in beskuit, koeke en ander lekkernye.

Buiten die tuisgebak is daar ook fasiliteite waar kliënte dokumente kan druk, asook op T-hemde of bekers. “Alles [die huur en verkoop van die DVD’s, tuisnywerheid en drukker-winkel] dra saam by [tot die inkomste van die winkel],” het Swanepoel verduidelik.

Volgens haar word die winkel buiten die vooruitgang van tegnologie ook deur ander uitdagings in die gesig gestaar.

Een daarvan is die feit dat mense nie hul gehuurde DVD’s terugbring nie, en Vee’s Video verloor só geld.

Volgens haar wek dit kommer onder die werknemers van die winkel, veral omdat daar reeds so min kliënte DVD’s huur.

Tans werk vier mense in Paarl se Vee’s Video, wat oor die jare heen “kreatief moes raak” om die winkel aan die gang te hou.

Swanepoel het verduidelik hoewel “alles [inkomste] saam tel”, is die winkel se grootste inkomste die drukwerk. Volgens haar word min DVD’s deesdae verhuur, maar sy het wel gesê mense kom van tot so ver as Klapmuts en Wellington om DVD’s te kom uitneem. Dié bestuurder het verduidelik die werk wat sy by Vee’s Video verrig, hou wel ’n finansiële uitdaging in, maar dit is iets wat sy vir niks sal verruil nie, omdat sy elke dag “met die publiek werk”.

Hierdie pos is ook haar tweede werk in haar loopbaan, en sy kan met sekerheid sê sy sal nie sommer bedank nie. Volgens haar is daar immers geen keer aan Vee’s Video nie, en beplan Swanepoel om steeds vir die jare wat kom by dié aanpassende DVD-winkel te werk.

You need to be Logged In to leave a comment.