Drakenstein-inwoners gaan waarskynlik van 1 Julie af dieper in hul sakke moet delf om by te bly met die nuwe voorgestelde tariewe – met verhogings van so veel as 8,56% wat voorlê vir onder meer water, elektrisiteit, sanitasie, vullisverwydering en eiendom.
Die voorgestelde tariefverhogings vir die 2024-’25-boekjaar is op verlede week se raadsvergadering ter tafel gelê en sal eersdaags openbare deelname ondergaan.
Dié openbaredeelnameproses moet inderhaas voltooi word aangesien die nuwe tariewe op 1 Julie vanjaar in werking moet tree.
In residensiële gebiede kan huiseienaars ’n verhoging van 4,9% op hul eiendomme verwag.
Dieselfde 4,9%-verhoging geld ook vir vakante eiendomme, landelike eiendomme, munisipale eiendomme, eiendomme vir sport en ontspanning asook eiendomme vir openbare infrastruktuur.
Sake- en kommersiële eiendomme kan ’n tariefstyging van 4,8% verwag.
Vullisverwydering in residensiële gebiede gaan op met 6,7% vir die verwydering van vullis een maal ’n week. Dit styg na R370,60 teenoor die R347,40 wat inwoners tans betaal.
Waar inwoners tans R772,35 per maand betaal om vullis twee keer per week te laat verwyder, stel die munisipaliteit voor dat die bedrag na R824,10 verhoog moet word.
Water styg ook konserwatief met 6,7%.
Waar ’n huishouding met ’n 100 mm-watermeter tans sowat R954 maandeliks betaal, afhangend van sy gebruik, kan dit met die nuwe tarief tot sowat R1 018,53 styg.
’n Styging van 6,7% vir riooldienste word ook voorgestel.
Die styging kan beteken dat huishoudings R1 441,94 per toilet vanaf 1 Julie kan betaal, teenoor die R1 351,40 wat hulle tans betaal.
Vir sakeondernemings beteken die 6,7% verhoging R3 218,07 per toilet.
Wat elektrisiteit betref, kan inwoners ook ’n styging verwag ná Eskom se implementering van sy nuwe elektrisiteitstarief van tussen 12,72% en 12,74% verlede week.
Dit volg nadat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) die verhogings in Desember verlede jaar bepaal het.
Tariefheffings vir plaaslike owerhede styg met 12,72% tussen 1 Julie 2024 en 30 Junie 2025. Eskom se direkte kliënte sal 12,75% meer betaal van 1 April 2024 tot 31 Maart 2025.
Bradley Brown, die Drakenstein-munisipaliteit se finansiële hoof, het aan Paarl Post gesê in die lig van Eskom se tariefverhoging sal Drakenstein-verbruikers 8,56% meer betaal.
Hy sê die munisipaliteit sal 4,16% aan Eskom subsidieer om die grootmaataankoopverhoging van 12,72% te dek.
Brown sê voorts die voorgestelde tariefverhogings is onderhewig aan verandering na gelang van Nersa se goedkeuring, asook die uitslag van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Plaaslike Regerings (Salga) se salarisonderhandelinge vir munisipale werkers.
Keagen Gertse, hoofsweep van die GOOD-party in Drakenstein, het intussen die party se kommer oor die algemene styging in tariewe uitgespreek.
“Die verhoging in tariewe is uiters kommerwekkend – veral in die lig van die fiskale posisie van Drakenstein en dat die munisipaliteit op ’n finansieringsmodel werk wat dit ongeveer twee maande finansiële ruimte gee sou geen inkomste ingevorder, geen toelaes ontvang of geen nasionale of provinsiale tesourie-verpligtinge nagekom word nie.
“Tariefverhogings sal slegs minderbevoorregte inwoners benadeel, wat reeds oorlaai is met die stand van ons land se ekonomie. ’n Munisipaliteit se hooffokus behoort dienslewering te wees, in die raamwerk van solvensie; om nie winste en surplusse na te jaag nie – iets wat ek glo Drakenstein, en hierdie verhogings, tans doen,” sê Gertse.
Hy lê veral klem op die styging in vullisverwydering, wat volgens hom onregverdig is aangesien daar ’n voortslepende agterstand in die verwydering van vullis is.
“Die munisipaliteit se vullisverwyderingsafdeling beleef ’n krisis. Drakenstein het tans 10 kompakteervragmotors. Die oudste vragmotor is 21 jaar oud.
“Dit het daartoe gelei dat die munisipaliteit van ’n eksterne diensverskaffer gebruik moes maak, wat die belastingbelater sowat R190 000 uit die sak gejaag het. Ek glo hierdie tarief is só ontwerp dat inwoners miljoene moet opdok om hierdie departement weer op dreef te kry en in wese die rekening te betaal.”
Die munisipaliteit se konsepbegroting vir die 2024-’25-boekjaar, begrotingsverwante beleide en voorgestelde tariewe, sowel as die konsep- geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) is nou oop vir kommentaar.
Die publiek kan toegang tot al hierdie konsepdokumente kry op die munisipale webwerf by www.drakenstein.gov.za
Kommentaar moet die munisipaliteit nie later as 29 April 2024 bereik nie.
Brown moedig inwoners aan om deel te neem aan die konsep GOP- en begroting-openbaredeelnamesessies, wat van 9 tot 29 April 2024 oor die 33 wyke sal plaasvind.
Die eerste openbaredeelnamesessie vind Dinsdag (9 April) by die Gouda-gemeenskapsaal plaas.