Die Drakenstein-munisipaliteit het verlede week op ‘n raadsvergadering ‘n bedryfsinkomste-konsepbegroting van R4,2 miljard vir die 2025’26-boekjaar ter tafel gelê.

Daarmee het hy tariefverhogings in water (7,7%), riolering en sanitasie (5,9%), vullisverwydering (5,9%), eiendomsbelasting (7,2%) en elektrisiteit (10,32%) aangekondig.

Inwoners het tyd tot einde April om insette oor die begroting asook die gepaard- gaande geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) te lewer.

Hierdie dokumente sal eersdaags digitaal beskikbaar wees, maar inwoners word ook aangeraai om dit by ope dae, wat in April in die onderskeie munisipale gebiede aangebied word, te besigtig.

Die finale begroting moet in Mei deur die raad goedgekeur word en sal van 1 Julie af in werking te tree.

Eiendomsbelasting op residensiële eiendomme, waarvan die waarde op die jongste waardasierol met tussen 50% en 60% gemiddeld toegeneem het, styg met slegs 7,2%.

Dit volg nadat die munisipaliteit ‘n geskiedkundige ooreenkoms met die departement van korporatiewe regering en tradisionele sake (CoGTA) bereik het om eiendomsbelasting vir residensiële eienaars tot 12,5% in die nuwe boekjaar te beperk.

CoGTA doen ‘n oorsig vir munisipaliteite oor hul implementering van die Wet op Eiendomsbelasting.

Ingevolge dié ooreenkoms sal eiendomme met ‘n waarde van R350 000 en minder geen eiendomsbelasting betaal nie.

Die munisipaliteit het ook onderhandel vir pensioentrekkers ouer as 60 om outomaties ‘n 5%-korting op eiendomsbelasting te kry.

Dié met ‘n bewese maandelikse inkomste van R35 000 of minder sal ‘n bykomende korting van 10% ná aansoek en goedkeuring ontvang.

In vergeleë gebiede waar eiendomme nie aan die munisipaliteit se waterpype, rioolstelsels of elektrisiteit gekoppel kan word nie, kan eiendomseienaars ook aansoek doen om ‘n 7,5%-korting vir elk van hierdie dienste.

“Die invoer van hierdie beginsel is ‘n deurbraak. Ons sal die eerste munisipaliteit in Suid-Afrika wees om ‘n eiendomsbelastingmodel in te stel. Dit skep die geleentheid vir ander munisipaliteite om dieselfde pad te stap,” het dr. Johan Leibbrandt, die stadsbestuurder, vandeesweek gesê.

“Dit was taai onderhandelings aangesien die Wet op Eiendomsbelasting nie noodwendig vir hierdie kortings voorsiening maak nie, maar CoGTA het ons uiteindelik die groenlig gegee,” het hy bygevoeg.

Wat die 7,7%- voorlopige tariefverhoging op water betref, het die munisipaliteit gesê hy gaan kapsie maak teen die Stad Kaapstad, wat beplan om die DM van 1 Julie af met ‘n 20,6%-verhoging vir water, wat uit die Wemmershoekdam voorsien word, “te slaan”.

Die Wemmershoekdam, van waar die munisipaliteit die meeste van sy water ontvang, behoort aan die Stad Kaapstad. Die voorgestelde 7,7%-verhoging is dus onderhewig aan die uitkoms van die beswaar wat deur die DM aan die Stad Kaapstad gerig is.

Dit kan dalk verhoog of verlaag word, het die munisipaliteit vandeesweek gewaarsku.

Volgens Leibbrandt word die hoë 10,32%-tariefverhoging vir elektrisiteit toegeskryf aan die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) wat toegestem het dat Eskom vir munisipaliteite van 1 Julie vanjaar 11,32% meer vir grootmaat elektrisiteit mag laat betaal.

You need to be Logged In to leave a comment.

  • Paarl Post – E-edition – 4 December 2025
    Paarl Post – E-edition – 4 December 2025

Gift this article