Die Paarl-gemeenskap is oorweldig met skokkende hartseer ná die raaiseldood van Simoné Scheepers (24) toe sy tydens ’n drafsessie inmekaargesak het.
Haar gesin, tesame met haar verloofde, Ivan Harris, het haar omsingel toe sy haar laaste asem Saterdagoggend omstreeks 02:00 in die Mediclinic Paarl uitblaas.
Dié oudleerder van Paarl Gimnasium is Vrydagmiddag deur haar ouers, Philip en Denise Fourie, na die hospitaal gehaas nadat sy naby haar huis ineengestort het. Dit het gevolg toe lede van die gemeenskap haar in ’n bewustelose toestand aangetref en hulp gebied het.
Die gesin het bevestig dat ’n lykskouing gehou sal word om die oorsaak van haar skielike dood op só ’n jong ouderdom te bepaal.
“Die gesin is verpletter,” voer die familiewoordvoerder, past. Etienne van Heerden van die AGS Paarl Protea, aan.
“Sy was werklik ’n engel en ’n mens kon altyd lekker met haar gesels. Jy kon haar deur ’n ring trek. Sy het die vermoë gehad om mense in haar teenwoordigheid goed te laat voel.”
Paarl Gimnasium het ’n huldeblyk op sosiale media geplaas: “Scheepers se skokdood het haar gesin en verloofde swaar getref en ons opregte simpatie en diepe meegevoel met die heengaan van oud-Gimmie Simoné Scheepers (MX ’15). Ons hart gaan in liefde uit na die Scheepers-gesin en -familie in dié tyd. Mag God vir julle vertroosting bring en julle omvou met Sy liefde.”
Simoné het mense gehelp om ’n gesonde leefstyl met haar passie vir lewensafrigting te volg. Sy het ook as persoonlike afrigter gewerk en haar eie onderneming, Sculpt by Simoné, in 2021 begin nadat sy in Desember 2020 gekwalifiseer het. Sy het ook by ’n landbou-organisasie, Radicale Group, gewerk.
Simoné sou in April haar troubeloftes aan Ivan verklaar.
“My engel, my sonskyn, my blou oë gevul met ware liefde. Baie dankie dat ek die voorreg gehad het om die kort tydjie, wat soos vir ewig, maar terselfdertyd hopeloos te kort voel, met jou te deel,” het Ivan op sosiale media aan haar opgedra.
Simoné, wat ook ’n ouer broer, Evan, nalaat, word Vrydag ter ruste gelê.
Bron: Netwerk24


