Die bekende slangvanger en dryfkrag agter Die Vonds-reptielpark, Danie Malherbe, is onlangs oorlede.
Danie het talle ongewenste gaste uit huise en sakepersele verwyder – altyd professioneel geklee in ’n blokkieshemp met ’n balpuntpen in die sak, kortbroek, lang sokkies en sy Grasshopper-skoene.
Die balpuntpen het hy gebruik om die verligte huiseienaars (onder wie se yskas, sofa of bed hy pas die dierasie verwyder het) die slang se anatomie uit te wys en te verduidelik dat slange eintlik goed doen. Die een wat hy so flussies gevang het, was maar net op die verkeerde plek.
Ek het hom by ’n noodgeval ontmoet. My jongste, Ben, toe vier, het êrens ’n tarentaaleier opgetel. Die eier is in ’n margarienbakkie met luggaatjies in gebêre. Ben was vas oortuig dat daar ’n drakie uit die eier sou uitbroei. Die margarienbakkie en sy inhoud is oral saamgeneem totdat dit ’n duidelike klankie begin aanneem het.
Die reuk het onhoudbaar geword, maar Ben het geweier om van sy “draakeier” ontslae te raak. Oplaas het my man ’n akkedis gevang en een nag, in die plek van die eier, in die margarienbakkie gesit. Ben was ekstaties toe hy die akkedis ontdek. Hy en sy ouer broer het klein kriekies en ander goggas vir die “drakie” gevang en laasgenoemde het hom gou in ’n groot glasbak (terrarium) met sand, klippe en plante wat ons vir hom ingerig het, gemaklik gemaak.
Alles het goed gegaan tot die dag wat ek ’n noodoproep op my selfoon ontvang het. Ek was in die Kaapse spitsverkeer. Die oudste: “Mamma, jy moet huis toe kom, Ben se drakie is dood. ’n Kas het op hom geval. Ben het al my klere natgehuil. Jy moet iets doen.” ’n Hartverskeurende gesnik was in die agtergrond hoorbaar.
Die kas en sy inhoud was van sekondêre belang. Dit was van veel groter belang om iets in die plek van die drakie te kry – enigiets wat min of meer soos ’n draak lyk. Dit was eers toe ek afdraai op die Windmeulpad dat die slangpark in my gedagtes opgekom het.
Dit was net voor vyf toe ek by Die Vonds inry. Niemand was in sig nie en ek het versigtig die ontvangsgebied ingestap en “halloo!” geroep. Danie Malherbe het te voorskyn gekom, simpatiek na my verhaal van ellende geluister en toe gevra: “Jy wil nie dalk ’n baba-anakonda hê nie? My wyfie het nou net ’n hele klomp kleintjies gehad.”
Die gedagte het vir ’n oomblik deur my kop geflits. Daar kon op die aardbol niks anders wees wat my kinders gelukkiger sou maak nie, maar ek het in daardie verblindende oomblik ook besef my ma, my suster en ons huishulp sou nooit weer hul voete in my huis sit nie.
Vir my ma en suster kon ek bel, of dalk selfs skryf, maar ek kon nie sonder my geliefde en lank lydende huishulp nie. Die aanbod is vriendelik van die hand gewys.
Danie kon nie help met ’n akkedis nie, maar hy het wel ’n geitjie gehad. Hy het my in ’n groot vertrek ingenooi – vol hokke met slange van elke beskrywing. Reg in die middel was die anakonda met ’n swetterjoel klein slangetjies om haar.
“Wag net hier,” het hy gesê en verdwyn om die geitjie te gaan haal. Die anakonda het haarself teen die sifdraad van haar hok opgetel en my in die oë gekyk. ’n Koue sweet het my begin aftap. Ek was alleen met baie slange – baie giftige slange. Net agter die anakonda het ek ’n hok gesien met ’n uiters giftige Noord-Amerikaanse cottonmouth wat aggressief in my rigting geblaas het. Sy buurman, ’n Kaapse kobra, het my agterdogtig onder sy bakkop beloer. Elke sonde waaraan ek my ooit skuldig gemaak het, is in daardie paar minute bely – net ingeval ek nie lewendig daar uitkom nie.
Danie het met die geitjie in ’n roomysbak opgedaag. Hy wou nie enigiets daarvoor hê nie. In die verbygaan het hy byna liefderyk na die anakonda en haar babas gekyk. Dit was duidelik dat hy ’n deernis vir slange gehad het wat heeltemal anders was as dié van die breë publiek.
Ek het baie dankie gesê, gegroet en na my kar gestap.
Malherbe het in die voordeur van die gebou gestaan en vir my gewaai.
Ek het die bak, met die geitjie in, op die passasiersitplek neergesit en my kar se sleutel net langs die motor op die grond laat val.
Ek het gemaak of ek na die sleutel soek, maar eintlik het ek, tot my ewige skande, onder die kar ingeloer, net om seker te maak daar klou niks aan die onderstel nie.