Vandag was my voorgeboortebesoek by TC Newman-daghospitaal en soos ons almal goed gewoond is, wag ons meer as ’n paar uur.
Ná slegs ’n paar minute in die wagkamer het ek baie onrustig begin voel. Ek raak elke dag lighoofdig, en vandag was dit een van die ergste!
Ek het geweet dat ek gaan flou val en het badkamer toe beweeg om op die grond te gaan sit. Daar was een vrou met wie ek die oggend vinnig gesels het. Hulle was besig met haar observasie en sy het my gesien te vinnig beweeg en het kom seker maak of ek oukei is. Ek het vir haar gesê ek is baie lighoofdig en sy het toe dadelik ’n suster gaan roep. Die suster het my met die grootste respek en begrip hanteer, sy het my opgehelp van die badkamervloer en my geneem om te gaan lê en gereël dat ek dadelik gehelp word.
Elke suster wat my in daardie kamer gehelp het, was so vriendelik dat ek skoon skuldig gevoel het om voor al die ander mammas gehelp te word en dat hulle nog langer gaan moet wag.
My yster was laag, en ek is 25 weke swanger. My man het opgedaag en daardie suster (ek dink dit was suster Collins) het so mooi aan hom verduidelik wat gebeur het en wat ons alles moet doen sodat ek genoeg yster in my liggaam kan kry en die laaste paar maande van my swangerskap geniet.
Sy het alles in detail aan hom verduidelik en op so ’n ordentlike wyse, want ons partners weet en verstaan nie aldag hoekom dit gebeur nie.
Die hoofsuster hier was suster L. Koopman. Ek is so ewig dankbaar vir almal wat gehelp het, ’n mens kry nie oral en altyd goeie diens as dit kom by daghospitale nie.