“Ons Suid-Afrikaanse jeug is nie net ’n groep passievolle individue en baanbrekers van formaat nie – hulle kan ook finansiële veerkragtigheid (in Engels bekend as ‘financial resilience’) en die ware eienskappe van rentmeesterskap ten toon stel.
In die proses help dit ook om ’n nalatenskap te vorm wat ander kan volg en daarop voortbou,” beklemtoon Wikus Olivier, besturende direkteur by CreditSmart- finansiële dienste.
Finansiële veerkragtigheid beteken dat jy voorbereid is om onverwagse finansiële aanslae te kan hanteer en oorkom, soos byvoorbeeld wanneer jy onbeplande uitgawes bykry as gevolg van veranderings in die ekonomie, rentekoersaanpassings wat opduik of mediese noodgevalle wat jy moet hanteer.
In vandag se uitdagende landskap is die ontwikkeling van finansiële veerkragtigheid belangriker as ooit voorheen, aangesien dit jou in staat stel om in moeilike tye deur te druk sonder om skadelike krediet- en skuldpraktyke aan te wend.
Olivier beveel die volgende wenke aan, wat jou tydens jou finansiële reis kan bemagtig en terwyl jy besig is om vir jouself (asook diegene wat jy inspireer) ’n voorspoedige toekoms voor te berei:
Wenk 1: Stel doelwitte en “koester jou geldverhouding”.
Jou verhouding met geld is gewoonlik persoonlik en kan deur jou agtergrond en ervarings beïnvloed word. Dit is wel belangrik om nie toe te laat dat vorige oortuigings, soos om besprekings oor geld te vermy, jou ontmoedig of definieer nie. Gebruik en beskou dit eerder as ’n geleentheid om jou finansiële doelwitte – in beide die lang en kort termyn – te assesseer en jou aksieplan, wat vir JOU unieke situasie volhoubaar is, aan te pas. Onthou, daar is geen een-grootte-pas-almal-oplossing in jou voortdurende finansiële reis nie.
Wenk 2: Finansiële opvoeding is belangrik – verbreed jou kennis.
Die wêreld van persoonlike finansies kan intimiderend wees – verál as jy voel jy moet meer ingelig wees. Kyk uit vir hulpbronne soos seminare, leesmateriaal en gesprekke oor persoonlike geldsake wat op aanlynplatforms beskikbaar is. Maak egter seker dat jy professionele mense of organisasies volg wat geregistreer en betroubaar is. Jy bemagtig jouself namate jy voortdurend jou kennis uitbrei sodat jy ook op die ou einde ingeligte besluite kan neem en die komplekse landskap van geld en finansies met selfvertroue kan aanpak.
Wenk 3: Ken ’n gedeelte van jou begroting toe as “spaar”.
Jou persoonlike begroting of bestedingsplan is belangrik sodat jy ’n ogie op jou uitgawes en inkomste kan hou. Spaar is ’n uiters belangrike begrotingsaspek waaraan jy voorkeur moet gee deur jouself “eerste te betaal”. Behandel jou spaargeld as ’n gereelde maandelikse uitgawe (al is dit aanvanklik ’n klein bedrag) en sit geld opsy vir ’n noodfonds. Dit is belangrik om geld weg te sit sodat jy jouself die broodnodige finansiële bestendigheid gee en ’n veiligheidsnet vir daardie moeilike en droë tye het.
Wenk 4: Maak seker dat jy ’n goeie krediettelling het en vermy onnodige skuld.
Om ’n gesonde krediettelling te handhaaf (met ander woorde, jou skuld elke keer betyds te betaal) en verantwoordelike skuldbestuur te beoefen, is noodsaaklik vir jou finansiële welstand. Neem beheer oor jou geldsake – gaan jou kredietrekord jaarliks deur en neem ingeligte besluite wanneer dit by bykomende krediet kom. Kitsoplossings is nie ideaal vir ernstige skuldsituasies nie. Indien jy dringend leiding met jou finansies benodig, roep die hulp van ’n geregistreerde entiteit of organisasie in wat gereguleerde, volhoubare oplossings bied om jou uit die boeie van skuld te help verlos.
Hierdie wenke kan jou help om jou ingesteldheid oor jopu geldsake te verfris en ’n voorspoedige toekoms vir jouself en toekomstige geslagte te skep.
Ten slotte beklemtoon Olivier: “Ons kan almal finansiële veerkragtigheid bereik, al verskil ons storie en prentjie van mekaar.
“Kom ons neem hande om saam ’n nalatenskap van finansiële bemagtiging te bewerkstellig en die weg te baan vir ’n volhoubare finansiële toekoms.”. CreditSmart Finansiële Dienste is ’n geregistreerde Finansiële Diensverskaffer (FDV 52295) wat toegewy is aan die verbetering van Suid-Afrikaanse verbruikers se finansiële welstand.