Die verpleegkundige Leonard Maschilla laat waai! Hy skeer sy snor in aanloop tot ’n spesiale geleentheid wat vir mans in die Paarl op 15 November aangebied word.


Manne, staan nader, want Dinsdag 15 November word spesiaal vir jou uitgesit by TC Newman CDC in die Paarl.

Die Wes-Kaapse departement van gesondheid nooi mans van alle ouderdomme om op 15 November na TC Newman te kom vir gratis aktiwiteite en om hul gesondheid en welstand te bevorder.

Van die aktiwiteite sluit in ’n springtou-uitdaging, met pryse om te wen, kenners wat raad gee oor aktiwiteite om jou liggaam sterk te hou, en inligtingstalletjies.

“Ek is so opgewonde oor dié dag dat ek my snor afgeskeer het,” sê die verpleegkundige Leonard Maschilla.

Hy vra dat mans sy voorbeeld volg en nou hul snorre afskeer en weer laat groei, sodat hulle op 15 November in aanmerking kan kom vir ’n prys vir die snor wat die beste versorg is.

Jaarliks word die afskeer van snorre gebruik as bewusmaking vir die vroeë opsporing van kankers wat die lewe van baie mans eis.

“ ’n Konsultasie met ’n pasiënt is gewoonlik meer ernstig, omdat die persoon kom omdat hy siek voel of bekommerd is oor iets. Op 15 November skep ons ’n gemaklike, vrolike atmosfeer. Kom vra vrae en vind uit hoe jy jou gesondheid kan beskerm en presies hoe gesondheidswerkers jou kan ondersteun.”

  • Mans kan op 15 November van 10:00 tot 19:00 by TC Newman CDC, Charles­ton Hill, Paarl, saam kuier. Bel Maschil­la by 076 334 8351 vir meer inligting.

You need to be Logged In to leave a comment.