Dries-hulle het Siriese bure gehad. Die Haddads. Hulle was vir my soos die Meester van die Hooggeregshof: Jy hoor net van hom, maar hy is onsigbaar en onbereikbaar. ’n Swewende iets iewers daar bo. In Suid-Afrika is sulke ietse natuurlik. Probeer net kontak maak met iemand in die ministerie. Hulle is ook stewig geanker iewers in die onsienlike, maar met dié onderskeiding: hulle word skielik sigbaar voor ’n verkiesing.
In elk geval. Hoedat die Siriërs op ’n karakoelplaas in die destydse Suid-Wes beland het, weet ek nie. Het nooit daaroor gewonder nie, tot nou. En nou is die wat weet al net so lank dood soos die Haddads self. Wat hul name was. Hoe oud hulle was. Of hulle kinders gehad het. Hoe hulle gelyk het en hoedat hulle daar geland het, het ek nooit gevra nie. Hulle was meneer en mevrou Haddad. My skoonmense was van die weiniges wat moeite gemaak het met hulle. Dié inkommers was, anders as almal in die omgewing, mense met ’n vreemde taal en anderster gewoontes as die “gewone mense” daar. En tog het my skoonmense aanklank by hulle gevind, hoewel hulle nooit besoek afgelê het by pappa-hulle nie.
Ek dink die toeloop van besoekers kort ná hul aankoms daar was uit nuuskierigheid en nie uit opregte goeie buurskap nie. Natuurlik het die “volksvreemdes” dit geweet, maar sou dalk tog opgeneem gewees het in die gemeenskap, was dit nie vir hul onnetheid nie – dis ’n eufemisme. Volgens my skoonmense was hulle werklik onhigiënies. Hulle sou nie jok nie, want het blitsig geleer dat jy by die Haddads niks eet of drink nie, nie eens water nie. Tog het hulle die vreemdelinge as bure gerespekteer en gehelp waar nodig.
Mamma het dikwels en graag vertel van ’n telefoonoproep deur mev. Haddad. Sy’t gevra hulle moet dadelik kom, want “my ou man is so baie siek”. Ai Miesies Dekoker ek het tog vir my ou man gesê hy moenie die warme koekies eet ek gemaak het nie. Hy eet die baie koekies dit is die seer maagpyn”. Vir ’n onbekende rede was dit baie snaaks vir haar en het sy met elke vertelling weer so lekker gelag soos net sy kon. Die storie was nie snaaks vir my nie, maar ek kon nie help om te lag vir haar wat soveel plesier vind in die herinnering nie. Die uiteinde van die siekebesoek is nooit vertel nie. Die storie het altyd begin by die oproep en die oorsaak van die siekte.
Pappa, wat maar moeilik gelag het, het weer ’n sêding van mnr. Haddad amusant gevind en ook graag vertel. Eendag met ’n besoek was mnr. Haddad erg omgekrap omdat iemand in die omgewing hom te na gekom het. “Miester Dekoker die bloed het op my brein geslaan. Sien ek hom weer, die bloed slaan weer op my brein.”
Wat die gemarginaliseerde Siriër gevoel het, is soos ek voel elke keer wanneer ’n blinkvet gladdemond, ge-pak en gedasde minister of ander belastingbetaler-rugryer op ’n nuuskanaal verskyn. Of hy geklee is in flenters of Levi Jeans of watse “label” kledingstuk, die absolute snert wat hulle verkondig laat elkers die bloed op my brein slaan.
Mnr. Haddad was baie gelukkiger as ek. Dit was net een persoon wat hom die normale bloedvloei na sy brein gekos het. Myne word daagliks ’n paar keer onderbreek in sy normale werking. Die rede is die gehamer op die gevolge van die vorige regime se vergrype: Diefstal van grond, geen onderwysstelsel, nul toegang tot wêreldklas tersiêre opleiding, gesondheidsdienste en infrastruktuur. Én die vermetelheid van die koloniste om die ontwikkeling in die Kaap wat voor 1952 deur die inheemse swart volke gedoen is, toe te eien asof hulle dit gedoen het.
Gemarginaliseerde mnr. Haddad, was baie gelukkiger as ek. Hy het die volle voordeel van die nalatenskap van die koloniste gehad op die dat hy sekerlik betyds dood is. Dus is hy dieselfde retoriek gespaar deur die nuwe heersers daar as waaraan ek en ander “indringers” hier onderwerp word.
Veral nou met die verkiesing dat die onsigbares skielik in mensegedaante verskyn en daagliks snert praat. Moes dit gekry het gedurende hul onsigbare bestaan. Of dalk is dit hul strategie om die opleiding te kry wat hulle benodig om die massa se stemme te wen deur kospakkies en T-hemde vir die wat nie self kan dink, lees, skryf of werk het of nie wil werk nie a.g.v. die vorige regime se misdrywe teen hulle.
Ek besef elke dag hoe goed gereguleer my bloedvloei en breinfunksies werklik is, want: Alles wat ’n beskaafde land benodig vir suksesvolle voortbestaan het die ANC die afgelope dertig jaar staangemaak. Maar dis in ’n ommesientjie verniel en verwoes deur ’n Cowboy and Crooks- regering. Dit is ook die koloniste se skuld. Hulle het immers flieks gemaak.
Ek glo my fisiek sal die uitslag van die komende verkiesing kan weerstaan, want ek hou mos nie die wêreld in stand nie. Ek leef net hier deur die Groot Regeerder.