47-jarige man van Hermanus, wat na bewering perlemoen onwettig vervoer het, lê in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal nadat hy tydens ’n jaagtog met die Paarl-polisie in ’n gebou in die dorp vasgeploeg het.
Volgens kapt. Louise du Plessis, ’n woordvoerder van die Paarl-polisie, het die voorval Dinsdag (30 April) in die vroeë oggendure plaasgevind en is die man vir die “besit van perlemoen asook roekelose en nalatige bestuur” deur lede van die Paarl-polisie asook die Wynland-distrik se blitspatrollie Winelands District Flying Squad in hegtenis geneem.
Die verdagte het ’n BMW bestuur en probeer om van die polisie af te vlug, vermoedelik reeds vanuit Franschhoek, waarna hy volgens ’n ooggetuie wat op die toneel was, beheer oor die voertuig verloor het, en in ’n sakeperseel op die hoek van Hoofstraat en Klein Reservoir-straat in die Paarl vasgejaag het nadat ’n band waarskynlik gebars het.
Die sakeperseel behoort aan ISA Architects, maar word verhuur aan die Mountain River Group, wat wynvate en ander produkte vir wynmakers verkoop en uitvoer.
Volgens ’n werknemer van dié onderneming met wie Paarl Post op die toneel gesels het, is groot skade aan die kantoor aangerig, met onder meer waardevolle papierwerk wat verlore is.
Volgens die werknemer het die onderneming die vorige dag belangrike finansiële papierwerk voltooi en in lêers verpak wat nou onder die bourommel verkrummel is.
Dié gebou het vroeër in April ook deurgeloop toe die stormwinde strukturele skade aangerig het weens bome wat omgewaai is en boomtakke wat in die wind meegesleur is.
“Die buitekant van die gebou is nou net skoongemaak ná die storm, en toe gebeur dit [die motorongeluk],” sê die werkgewer.
Dié historiese gebou dateer uit die 1800’s.
Ongeveer 2 300 perlemoene in altesaam 22 sakke is in die voertuig gevind, sê Du Plessis.
Paarl Post kon die nommerplaat op die BMW verbind met ’n Toyota Fortuner, wat daarop dui dat dit ’n vals nommerplaat moet wees.
Die verdagte is in die hospitaal opgeneem weens beserings wat hy tydens die ongeluk opgedoen het en sal eers ná sy vrylating in die Paarl-landdroshof verskyn.