Die Britse supergroep Smokie kom van 18 tot 22 September na Suid-Afrika as deel van hul 45ste bestaansjaar-wêreldtoer. Hulle sal op 18 September om 20:00 by die Grand Arena in GrandWest, Kaapstad, optree.
Frans Swart, die besturende direkteur van Lefra Produksies, wat Smokie al vir vyf toere na Suid-Afrika gebring het, sê hy is baie opgewonde dat Smokie besluit het om Suid-Afrika as deel van hul 45ste bestaansjaar-wêreldtoer in te sluit. “Oor die jare het ons goeie vriende geword, en in die proses het ons eintlik familie geword. Dit is so lekker om hulle weer in SA te verwelkom. Ek is seker daar sal ’n paar verrassings in die vertoning wees. Ek kan egter ’n Smokie-partytjie waarborg!”
Om pop-rock-oorlewendes te wees, is ’n prestasie. Om Europa se voorste regstreekse orkes te wees – 45 jaar ná hul ontstaan – is werklik fantasties, maar om steeds entoesiasties, vars, heeltemal toegewyd en dol oor musiek te wees, is ’n positiewe wonderwerk.
Miskien kan ’n mens Smokie vergelyk met Brasilië se nasionale sokkerspan, in die sin dat Brasilië – ten spyte van veranderings aan die span – steeds die beste sokker in die wêreld speel. Net so het Smokie oor die jare ’n reeks veranderings ondergaan sonder om die essensie van die groep te verloor, en die jongste groep lyk asof dit die sterkste nog is: Pete Lincoln (hoofsanger, kitaar), Luke Bullard (agtergrondsang, baskitaar), Mick McConnell (agtergrondsang, hoofkitaar), Martin Bullard (sleutelbord) en Steve Pinnell (dromme en perkussie).
“Smokie is nie ’n alleen-ster nie,” sê Lincoln. “Ons is ’n groep. Smokie is ’n klank, en is nie afhanklik van een mens nie, soos dikwels die geval in popmusiek is. Ons krag lê in spanwerk, en ek sê sonder huiwering dat ons huidige span ons beste nog is. Smokie was nog nooit so goed soos nou nie.
“Smokie is lief vir Suid-Afrika, en ons sien uit na ons toer na dié land, veral julle warm somer en wonderlike sonskyn. Hou julle braaiers en rooiwyn gereed!”
Die baie gewilde Suid-Afrikaanse groep West sal die gassangers op die Smokie-toer wees. West bestaan uit Ernie Bates (Overtone/Invictus), Mac Young en Hugo Hewitt bestaan. Een van hul lede, Hewitt, sê hulle is baie opgewonde om saam met Smokie op te tree. “Ons het almal met die musiek van Smokie grootgeword. Ek moet sê, elke liedjie wat hulle opgeneem het, het ’n treffer geword, en dit is hoekom Smokie ná al die jare steeds so gewild is. Ons is baie nederig om die openingsoptrede vir Smokie te doen!”
Kaartjies vir enige van die Smokie-konserte kan gekoop word deur www.LTickets.co.za, 011 815 3000 of by www.smokie.co.za. Groepe van meer as 10 kry afslag. Bel Monica Booysen by 011 815 3000 of stuur e-pos na info@lefra.com. Vir meer inligting, besoek www.smokie.co.za..Jy kan twee kaartjies wen vir SMOKIE se vertoning by die GrandWest Arena, Kaapstad, op 18 September 2024 om 20:00. Al wat jy hoef te doen, is om die volgende te SMS na 37338: PaarlPost Smokie, jou naam, van, e-posadres en stad/dorp. Wenners sal per e-pos in kennis gestel word en die besluit van die organiseerders is finaal. SMS’e kos R1,50 en daar is geen beperking op die aantal inskrywings nie. Bepalings en voorwaardes geld.